Wanneer word ‘n maatskappy geag om nie sy skuld te kan betaal nie?
As ‘n resultaat van Covid 19 en die inkrimping van die ekonomie is baie besighede onder geweldige finansiële druk en bevind hulself in ‘n posisie waar hulle nie hulle skulde kan betaal soos en wanneer dit betaalbaar is nie. Daarom bespreek ons vandag die vraag – wanneer word ‘n maatskappy geag om nie sy skuld te kan betaal nie? Hierdie vraag is belangrik omdat ‘n maatskappy wat geag word nie sy skuld te kan betaal nie, gelikwideer kan word deur ‘n hofaansoek namens ‘n krediteur.
In Artikel 344 van die Maatskappywet, 1973 (“die Maatskappywet”) word daar agt omstandighede uiteengesit wanneer ‘n maatskappy deur die hof gelikwideer kan word. Die onvermoë van ‘n maatskappy om nie sy skuld te kan betaal nie, soos uiteengesit in artikel 345 van die Maatskappywet is by vêr die bepaling wat die meeste gebruik word in die praktyk en in aansoeke deur krediteure om ‘n maatskappy te likwideer.
Artikel 345 van die Maatskappywet beskryf wanneer ‘n maatskappy nie sy skulde kan betaal nie en verklaar dat ‘n maatskappy word geag nie sy skulde te kan betaal indien:
- ‘n Skuldeiser, by sessie of andersins, aan wie die maatskappy ‘n reeds opeisbare bedrag van nie minder nie as R100 verskuldig is, ‘n aanmaning ontvang waarin die maatskappy aangesê word om die bedrag aldus opeisbaar te betaal deur dit by sy geregistreerde kantoor te laat en die maatskappy vir drie weke daarna nagelaat het om die bedrag te betaal, of tot die redelike bevrediging van die skuldeiser daarvoor sekerheid te stel of ten opsigte daarvan ‘n akkoord aan te gaan; of
- die balju of geregsbode, in sy relaas op ‘n prosesstuk of ander bevelskrif uitgereik ingevolge ‘n vonnis of bevel van ‘n hof ten gunste van ‘n skuldeiser van die maatskappy, verklaar dat hy onvoldoende vervreembare goed gevind het om te voldoen aan die vonnis of bevel, of dat die gevonde vervreembare goed by verkoping onvoldoende was om te voldoen aan sodanige prosesstuk; of
- Tot die bevrediging van die Hof bewys word dat die maatskappy sy skulde nie kan betaal nie.
Wanneer daar vasgestel word wanneer ‘n maatskappy nie sy skuld kan betaal nie, sal die howe die voorwaardelike en verwagte aanspreeklikhede van die maatskappy ook in ag neem.
Die toets wat toegepas moet word om te bepaal of a maatskappy nie sy skuld kan betaal nie is om vas te stel of die maatskappy kommersiëel insolvent is, dit wil sê dat die maatskappy nie sy dag-tot-dag finansiële verpligting kan nakom in die gewone loop van besigheid.
Ons howe het in die verlede beslis dat die primêre vraag wat ‘n Hof sal oorweeg in die besluitneming oor wanneer of wanneer nie ‘n maatskappy gelikwideer kan word op grond dat die maatskappy kommersieël insolvent is, is of die maatskappy genoegsame likiede bates, of bates wat onmiddelik verkoop kan word beskikbaar het om sy verpligtinge na te kom soos en wanneer dit betaal moet word in die gewone loop van besigheid en daarvolgens nog steeds in ‘n posisie te kan wees om normaal handel te dryf. Met ander woorde, kan die maatskappy sy huidige verpligtinge nakom en nog steeds operasioneel bly? Dit is nie altyd voldoende om ‘n likwidasie aansoek vry te spring indien die bates van die maatskappy, redelike gewaardeer, haar laste oorskry nie. Wanneer die howe bevind dat die maatskappy nie sy krediteure kan betaal nie, is daar genoegsame rede om te verklaar dat die maatskappy nie in staat is om sy skuld te kan betaal nie en daarvolgens die maatskappy te likwideer.
Daarom, die oomblik wanneer die howe bevind dat die maatskappy nie haar verpligtinge teenoor haar krediteure kan nakom nie mag, en behoort, die hof die maatskappy te likwideer.
Artikel deur Enrico Acker: Insolvensie en Sakeredding Spesialis
Vir meer inligting, kontak Enrico by enrico@rgprok.com of 044 601 9900
__
Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.