SAAMWOONVERHOUDINGS – om pen op papier te sit
Saamwoonverhoudings (om saam te woon, in ‘n verhouding wat bedoel is om permanent van aard te wees), word jaarliks meer algemeen, al is daar tans ‘n tekort aan toepaslike en spesifieke wetgewing wat aspekte hieromtrent reguleer.
Hierdie gebrek aan wetgewing kan toegeskryf word aan die feit dat saamwoonverhoudings nie as ‘n regsverhouding erken word in Suid-Afrika nie, alhoewel daar ‘n groot hoeveelheid regsgevolge uit hierdie verhoudings spruit.
‘n Perfekte voorbeeld hiervan is waar (van toepassing op verhoudings van beide dieselfde óf teenoorgestelde geslag), A en B al saamwoon vir die afgelope 20 jaar as lewensmaats en het 2 kinders. A en B het geen skriftelike saamwoonooreenkoms tussen hulle nie. A kom skielik te sterwe sonder om ‘n geldige testament na te laat. B kom tot dit die besef dat hy / sy nie noodwendig oor dieselfde regte beskik as iemand wat getroud is in terme van die ‘Civil Union Act’ en Huwelikswet het nie, ongeag die duur van hulle verhouding.
Lewensmaats in saamwoonverhoudings is slegs geregtig op die bates wat hulle self gehad het aan die begin van hul verhouding en is op geen wyse geregtig op ‘n deel van hul maat se bates nie, al het hulle tot die groei van hul lewensmaat se boedel bygedra.
Hierdie kwessies en uitdagings waarvoor lewensmaats te staan kom, sluit in, maar is nie beperk tot die volgende nie: boedelbelasting, Intestate erfopvolging, om ‘n afhanklike tot ‘n mediese fonds te word, die reg tot toegang tot hul maat se pensioen fonds, asook om onderhoud te eis.
Sekere Suid-Afrikaanse Finansiële Instellings laat selfs nie ‘n gedeelde bankrekening tussen lewensmaats toe nie. Hierdie instellings maak slegs voorsiening vir teken-regte, maar die aanspreeklikheid en bates vestig in die persoon in wie se naam die rekening ge-open is.
Sou ‘n lewensmaat onder die indruk wees dat hulle geregtig is om ‘n eis teen hul maat of sy/haar boedel in te stel, is die onus op hulle om te bewys dat daar wel ‘n verhouding bestaan het, watter regte en verpligtinge hieruit ontstaan het en wat hul eis behels.
Dit is die partye se verantwoordelikheid om ‘n geskrewe saamwoonooreenkoms te sluit, ten einde hulself en hul lewensmaat te beskerm. Hierdie saamwoonooreenkoms kan elke aspek van die verhouding bevat, insluitende die bydrae en bestuur van hul gesamentlike finansies (gedeelde lewenskoste, bates en laste), toesig oor troeteldiere wat hulle saam besit, sowel as hoe om gedeelde bates te administreer sou hulle die verhouding verbreek of ontbind.
Wanneer u ‘n saamwoonverhouding oorweeg, is dit belangrik om te onthou dat dit veel meer is as twee persone wat kies om saam te woon en ‘n huishouding te deel. ‘n Saamwoonverhouding, net soos ‘n huwelik, behels dat twee mense se lewens nouliks verweef word in alle aspekte. Dit is dus belangrik om hierdie ooreenkoms behoorlik te beplan, goed te deurdink en ook hierdie besluite in ‘n skriftelike ooreenkoms te vervat.
Artikel deur Zancha Kruger (LLB), Kandidaat Prokureur.
Vir meer inligting kontak gerus vir Zancha by Zancha@rgprok.com of 044 601 9900.
__
Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.