REGSBEVOEGDHEID EN KURATORSKAP – WÊRELD ALZHEIMERS-MAAND

REGSBEVOEGDHEID EN KURATORSKAP – WÊRELD ALZHEIMERS-MAAND

In 2020 was daar meer as 50 miljoen mense wêreldwyd wat met demensie moes saamleef. Daar word beraam dat hierdie syfer in die jaar 2030 na ongeveer 82 miljoen mense sal groei, waarvan die meerderheid in lae- tot middelinkomste lande woon. Die onderwerp van geestesgesondheid, die gebrek aan besluitnemingsvermoë en regsopsies beskikbaar aan diegene wat saam met demensielyers woon, of wat hulle versorg, word tans, meer as ooit tevore, in Suid-Afrika bespreek. September is Wêreld Alzheimers-maand en word geag as ‘n internasionale poging om bewustheid te skep rondom demensie en die stigma rondom die siekte.

 

Wat is regsbevoegdheid?

Suid-Afrikaners se menseregte word beskerm deur die Grondwet en meer spesifiek in die Handves van Regte. Dit verleen aan elkeen die bevoegdheid om daardie regte uit te oefen, om besluite te neem en om die gevolge van die besluite te verstaan.

Verswakte vermoë om besluite te neem en regshandelinge uit te voer is normaalweg die gevolg van demensie, Alzheimers en enige ander geestesongeskiktheid. Die vrees is onvermydelik dat die dag gaan aanbreek wanneer ‘n person nie meer in staat sal wees om sy persoonlike- of besigheidsake te bestuur nie.

Dit is belangrik om te weet dat vermoë om besluite te neem nie noodwendig ‘n ‘alles of niks’ beginsel is nie, maar dat dit van tyd tot tyd kan wissel. Die algemene aanname is egter dat alle volwassenes bevoeg is, totdat die teendeel bewys word. Verstandelike gestremdheid, of die gebrek aan regsbevoegdheid moet deur mediese bewyse gerugsteun word.

Daar is verskeie regsopsies beskikbaar, maar vir die hierdie artikel se doeleindes, word slegs die mees algemene opsies bespreek.

Algemene volgmag:

Die Suid-Afrikaanse reg met betrekking tot verteenwoordiging bepaal dat ‘n prinsipaal nie meer magte, regte of pligte aan ‘n agent mag oordra, as waaroor hy self beskik nie.

‘n Algemene volmag is ‘n eenvoudige en koste-effektiewe instrument wat normaalweg aangewend word  deur persone wat nie fisies in staat is en / of nie fisies teenwoordig kan wees in die land om hulle in staat te stel om pligte te vervul soos onder meer:

          a) Dokumente te onderteken;

          b) Die fisiese administrasie en / of bestuur van hulle finansiële sake te behartig.

Die volmag verval sodra die prinsipaal nie meer oor die verstandelike vermoeë beskik om hierdie pligte uit te voer nie. Suid-Afrika in teenstelling met baie ander lande, soos Amerika, erken nie die geldigheid van ‘n Blywende Algemene Volmag nie, alhoewel daar voortdurende wekroepe is om wetgewing aan te neem om hierdie aspek te hervorm.

Daar is ‘n algemene wanopvatting in Suid-Afrika, veral tussen ouers en kinders, dat ‘n algemene volmag blywend van aard is. Die geloof is dat ‘n algemene volmag die antwoord is in gevalle waar die prinsipaal geestesongesteld raak en gediagnoseer word met demensie en / of Alzheimers. Die algemene volmag so word geredeneer, is die troefkaart vir die toekomstige versorging van die prinsipaal en die bestuur van sy sake.

Hierdie wanopvatting, plaas die agent (meer gereeld die kind / versorger) in gevaar om ongemagtig te handel of selfs bedrog te pleeg.

Kuratorskap:

In terme van die Gemenereg kan ‘n aansoek gebring word in die Hoë Hof vir die aanstelling van ‘n kurator. Daar is drie tipes kuratorskap, naamlik curator ad litem (hierin word die pasiënt verteenwoordig gedurende regsgedinge), curator personae (hier word besluite geneem ten opsigte van die versorging, voogskap en die welsyn van die pasiënt) en curator bonis (die bestuur van finansies, eiendom, of boedel van die pasiënt).

‘n Kurator moet wag vir ‘n aanstellingsbrief vanaf die Meester van die Hoë Hof alvorens hy / sy mag optree as kurator. Die kurator sal dan die boedel in ooreenstemming met die hofbevel, aanstellingsertifikaat en die bepalings in die Boedelwet, 1965 administreer.

Die aansoekproses kan soms omslagtig, lank en duur wees en is nie normaalweg toeganklik vir die meerderheid Suid-Afrikaners nie.

Wet op Geestesgesondheid – administrateur:

‘n Ander opsie is om ‘n skriftelike aansoek by die Meester van die Hoë Hof (in wie se jurisdiksie die pasiënt woon), te loods vir die aanstelling van ‘n administrateur, in terme van die Wet op Geestesgesondheid, 17 van 2002.

Die applikant is gewoonlik ‘n naasbestaande of ‘n persoon met ‘n belang in die boedel van die pasiënt. Hierdie proses is aansienlik vinniger en goedkoper, omrede regsbystand nie ‘n vereiste is om die aansoek te bring nie. Regsbystand word egter aanbeveel.

Indien die pasiënt se bates minder as R200 000 is, of hul jaarlikse inkomste minder as R24 000, kan die Meester ‘n aanstelling maak sonder om ‘n ondersoek te vereis. Indien die pasiënt se bates of inkomste egter meer is as die voorafgenoemde bedrae is, sal die Meester ‘n ondersoek rakende die meriete van die aansoek versoek en die koste sal van die pasiënt se boedel verhaal word.

Indien ‘n administrateur aangestel word, sal die administrateur se regte en pligte soorgelyk wees as die van ‘n curator bonis.

Spesiale Trust:

Die laaste opsie wat bespreek moet word, is die gebruik van ‘n spesiale trust. SARS het in ‘n beslissing (BPR 306) gehandel met die probleem rakende skenkingsbelasting. In die skenking van fondse aan ‘n spesiale trust is dit voorgehou dat geen skenkingsbelasting betaalbaar sou wees as die applikant wat die trust gestig het, fondse aan die trust geskenk het nie.  Die applikant was nog steeds in staat om te kontrakteer en haar eie besluite kan neem, alhoewel sy reeds met demensie gediagnoseer was.

Die applikant was die primêre begunstigde van die trust en die trust se doelstelling om aan haar toekomstige onderhoud en welstand te voorsien. Diskresie was verleen aan die trustees om hieroor te besluit, omrede sy as gevolg van haar geestesongesteldheid nie meer in staat sou wees om dit self te kon doen nie. Die sekondêre begunstigdes van die trust, sou slegs baat ná die applikant se afsterwe en was afstammelinge van die applikant.

‘n Spesiale trust, soos geregistreer by SARS ingevolge die Wet op Inkomstebelasting, geniet sekere belastingvoordele wat soortgelyk is aan die belasting van toepassing op individue.

Gevolgtrekking

Die Suid Afrikaanse Regshervormingskommissie het in Desember 2015 ‘n verslag bekend gestel met betrekking tot bystand gedurende besluitneming. Die belangrikheid van die huidige Suid-Afrikaanse regsposisie wat daarin misluk om die outonomiteit van verstandelike gestremde landsburgers te erken en hulle sodoende te beskerm teen uitbuiting en misbruik, word hierin beklemtoon.

Hierdie verslag vereis hervorming en bevat verskeie voorstelle, soos onder meer ‘n handves vir bystands-besluitneming. Dit streef na ‘n meer toeganklike en bekostigbare statutêre sisteem vir bystands-besluitneming in Suid Afrika. Ongelukkig, is die proses van regshervorming ‘n baie stadige proses.

Wat moet intussen gebeur? Bespreek die beskikbare opsies met jou regsverteenwoordiger en fidusiêre regspesialis. Hou eerder nóu die moeilike gesprek sodat jy jou geliefdes en jouself die risiko spaar om ‘n slagoffer te word van tekortkominge in die reg. Neem beheer oor dit wat binne jou bereik is, en hopelik kan ons saam, ‘n beter toekoms verseker vir persone wat tans of in die toekoms aan ‘n geestesongestelheid of -gestremdheid mag ly.

 

Artikel deur Kelly Fourie (Assosiaat), LLB

Vir meer inligting, kontak Kelly gerus by kelly@rgprok.com of 044 601 9900.

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Die regsposisie rondom Huurdeposito’s:…

Of jy nou 'n tuinwoonstel verhuur of jou eerste huis huur, een kwessie is feitlik altyd die grootste bron van geskille aan die einde van 'n huurooreenkoms: die deposito. Huurders…
Read more

Deel 1: Oordrag van…

Wanneer 'n persoon te sterwe kom, moet hul boedel – wat al hul bates en laste insluit – volgens die bepalings van hul testament en/of toepaslike wetgewing verdeel word. Hierdie…
Read more

“VERSTEEKTE” KOSTES VERBONDE AAN…

Daar is baie min dinge so opwindend, dog senutergend, soos om vir die eerste keer eiendom te koop of verkoop. Alhoewel ‘n eiendomsagent (in die meeste gevalle) en transportbesorger aangestel…
Read more