Op 12 Mei 2019 sal moeders oral in ons land Moedersdag vier. Die dag is besonders omrede alle moeders op dié dag uitgesonder word om erkenning te kry vir al die harde werk en opofferings wat hulle maak gedurende die opvoedingstaak van hul kinders. Die taak is nie net enorm nie, maar in meeste gevalle ook uitdagend.
‘n Biologiese moeder of sy getroud is of ‘n buite egtelike kind het, het outomaties volle ouerlike verantwoordelikhede en dus regte tot haar kind. Die verantwoordelikhede en regte sluit onder andere in die reg om vir haar kind te sorg, om kontak met die kind te behou, om as voog op te tree en om by te dra tot die onderhoud van die kind.
Vrouens wat buite egtelike kinders het bevind hulself soms in die moeilike posisie dat die vader van die kind afwesig is in die grootmaak van die kind en / of versuim om enige bydrae of ‘n behoorlike bydrae te maak tot die onderhoud van die kind. Dit kan ‘n geweldige finansiële las op die moeder plaas en tot gevolg hê dat sy nie die finansies het om behoorlik te kan sorg vir die minderjarige kind nie.
Dit is belangrik dat moeders in sulke situasies die Landdroshof in die distrik waar sy woonagtig is nader en deur die onderhoudshof ‘n bevel aanvra dat die vader ‘n vaste maandelikse bedrag in onderhoud betaal. Die bevel vir ‘n maandelikse betaling sal meer sekerheid daarstel deurdat die moeder dan weet presies watter bedrag die vader maandeliks gaan bydra en maak dit haar finansiële beplanning rakende die kind se uitgawes effe makliker. Die moeder sal ook later weer die onderhoudshof kan nader indien die maandelikse uitgawes van die kind en / of lewensonkostes verhoog en versoek dat die vader ‘n verhoogde bedrag onderhoud maandeliks moet betaal. Die verdere voordeel hierin is dat indien die vader versuim om die hofbevel na te kom en nie betaal nie, kan die moeder die onderhoudsbeampte in kennis stel en sal daar ‘n klagte van agterstallige onderhoud gelê word teen die wanbetaler. Die persoon sal dan in die hof moet verskyn en reelings tref hoe die agterstallige bedrae betaal gaan word. Die howe het in sulke gevalle verskeie magte ten einde te verseker daar word voldoen aan die bevel.
Bo en behalwe die finansiële spanning wat ‘n moeder mag ervaar is daar ook scenarios waar ‘n moeder in ‘n huwelik is, deur ‘n egskeiding gaan of wie in ‘n saamwoonverhouding is waar gesinsgeweld teenwoordig is en haar laat vrees vir die welstand en veiligheid van haarself en haar kind. Daar is spesifieke wetgewing in plek om die moeder en kind in so situasie te beskerm. ‘n Persoon wie beskerming in so geval benodig kan die Landdroshof nader en aansoek doen vir ‘n Gesinsgeweld Interdik. Die interdik is nie net van toepassing op die fisiese daad van aanranding nie, maar sluit in enige dreigemente, ekonomiese geweld, emosionele, verbale en sielkundige mishandeling, intimidasie, teistering, agtervolging en toegang tot die woning wat nie deur die betrokke partye gedeel word nie, sonder toestemming.
Daar moet ook oorweging geskenk word rondom wat gebeur met ‘n kind waar beide ouers nie meer vir die kind kan sorg of voorsien in die geval waar hulle tot sterwe kom nie. Die antwoord tot die vraag is ‘n geldige testament. Ouers is geregtig daarop om ‘n geskikte en gepaste persoon te nomineer as voog vir hul kind. Die aanstelling van die voog om te sorg vir die kind moet in ‘n testament vervat word. Die ouers is ook by magte om in die testament voorsiening te maak vir die kind se finansiële versorging en opvoeding by wyse van ‘n testamentêre trust.
Vir enige verdere inligting kan u Van Niekerk Steyn kontak by 044 601 9900 of office@rgprok.co.za .