‘n Testament – Prioriteit vir almal se Te-Doen-Lysie

‘n Testament – Prioriteit vir almal se Te-Doen-Lysie

Vir baie mense is die opstel van ‘n testament nie hoog op hul prioriteitslys nie, en kort voor lank versuim meeste mense om hierdie belangrike dokument op te stel.

Sou iemand sonder ‘n geldige testament te sterwe kom, sal hul boedel beredder word ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging, ongeag hul laaste wense en die voorsiening wat hul vir hul minderjarige kinders se sorg sou wou maak.

Volgens die Meesterskantoor sterf meer as 70% van alle Suid-Afrikaners jaarliks sonder ‘n geldige testament, en in die meeste gevalle is dit jonger mense wat nie oor hierdie belangrike dokument beskik nie.

Sou die ouers van minderjarige kinders te sterwe kom sonder om die nodige voorsiening vir hul kinders te maak, sal die erfenis wat hul toekom in die Staat se Voogdyfonds, soos bestuur deur die Minister van Justisie gedeponeer word. Kinders jonger as 18 beskik nie oor die nodige regsbevoegdheid om enige kontraktuele verpligtinge aan te gaan nie. Sodra die minderjarige kind 18 word, sal hul erfenis, sowel as enige opgelope rente aan hulle betaal word.

Alhoewel die Voogdyfonds ‘n effektiewe manier is om minderjarige kinders se erfenis te beskerm, word die fondse teen ‘n lae rentekoers belê én is dit vir die minderjarige se voog uiters frustrerend om fondse tot die minderjarige se voordeel te onttrek.

Om jou minderjarige kinders se erfenis te bestuur en beskerm omdat hulle nog nie daartoe in staat is nie, kan ouers ‘n testamentêre trust oorweeg wat met hul afsterwe gestig word. ‘n Testamentêre trust word gestig tot die voordeel van sekere persone (die begunstigdes).

‘n Testamentêre trust word as ‘n klousule in ‘n testament vervat, waar die ouers die termes en voorwaardes van die trust kan uiteensit. Ouers kan besluit watter bates aan die kinders vererf word, wie die Trustees moet wees en op watter ouderdom hul erfenis aan hulle uitbetaal moet word.

Wanneer daar besluit word oor wie as Trustees moet optree, is dit altyd belangrik om in ag te neem, wie jou kinders se beste belange op die hart sal dra. Dit sal altyd beter wees om ‘n vertroueling, tesame met ‘n onafhanklike trustee aan te stel wat saam die nodige besluite oor die Trust kan maak. Dit is ook in die ouer se diskresie of hulle die minderjarige kind se voog as ‘n trustee wil benoem.

Alhoewel jy die vryheid het om enige persoon as trustee te benoem het die Meester van die Hooggereregshof die diskresie om te besluit om wel daardie persoon aan te stel.

Die fondse in die trust kan aangewend word tot die kinders se basiese behoeftes, onderrig, onderhoud en so meer.

Dit is dus van kardinale belang om alle faktore in ag te neem, en te dink aan jou kinders se versorging met die opstel van jou testament. Neem dus ingeligte besluite om jou kinders se erfenis te bewaar tot hulle eendag in staat is om dit self te doen.

 

 

Artikel deur Zancha Kruger (LLB)

Vir meer inligting, kontak Zancha gerus by zancha@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.com

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Die regsposisie rondom Huurdeposito’s:…

Of jy nou 'n tuinwoonstel verhuur of jou eerste huis huur, een kwessie is feitlik altyd die grootste bron van geskille aan die einde van 'n huurooreenkoms: die deposito. Huurders…
Read more

Deel 1: Oordrag van…

Wanneer 'n persoon te sterwe kom, moet hul boedel – wat al hul bates en laste insluit – volgens die bepalings van hul testament en/of toepaslike wetgewing verdeel word. Hierdie…
Read more

“VERSTEEKTE” KOSTES VERBONDE AAN…

Daar is baie min dinge so opwindend, dog senutergend, soos om vir die eerste keer eiendom te koop of verkoop. Alhoewel ‘n eiendomsagent (in die meeste gevalle) en transportbesorger aangestel…
Read more