Die Grondwetlike Hof het verlede week uitspraak gelewer in die hofsaak tussen die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (”die SAJWV”) en die Minister van Veiligheid en Sekuriteit (“die Minister”) wat gehandel het oor vuurwapenlisensies. Die Minister se appèl is gehandhaaf en die oorspronklike Hooggeregshof uitspraak is omgekeer.
Die gevolg van die uitspraak is dat vuurwapens waarvan die lisensies reeds verval het, en waarvoor nie betyds aansoek gedoen is vir hernuwing nie, onwettig is en dat die eienaar krimineel vervolg kan word. Sodanige wapen kan nie weer geldig gelisensieër word nie en moet by die Minister ingehandig word. Volgens regulasies in die Wet het die Minister die reg om te besluit of kompensasie toegestaan word en is die huidige kompensasie R500 vir ‘n handwapen en R1000 vir ‘n geweer. Dit is te betwyfel of die Minister bereid sal wees om te betaal en of so ‘n eis sal slaag.
Dit bly egter ‘n ope vraag of die ou groen lisensies kon verval. Die Minister is van mening dat dit het, maar daar is geen statutêre bepaling wat hulle standpunt steun nie. As ‘n persoon ‘n groen en nuwe lisensie gehad het, het hy twee geldige lisensies gehad. As die nuwe lisensie verval het, is ons van mening dat so eienaar ‘n geldige verweer teen ‘n kriminele klag sal hê.
In terme van voorlopige inligting oorweeg die Minister amnestie teen vervolging vir ‘n paar maande. Amnestie moet deur die Parlement goedgekeur word, maar die aansoek is blykbaar nog nie daar ingedien nie. Indien amnestie wel goedgekeur word, sal onwettige wapens ingehandig kan word en sal die eienaar nie vervolg word nie. Die wapen sal getoets word en indien die wapen met misdaad verbind word, sal vervolging vir die betrokke misdaad ingestel kan word, maar nie vir die onwettige besit van die wapen nie.
Dit is tans onseker of ‘n eienaar in besit van ‘n onwettige vuurwapen aansoek sal kan doen vir ‘n nuwe lisensie vir die wapen wat ingehandig is onder die amnestie. Dit is te betwyfel of die Minister bereid sal wees om dit toe te laat en maak die Wet of die Hof se uitspraak nie daarvoor voorsiening nie.
Die gevolg van die Hof se uitspraak is dus dat enige vuurwapen waarvan die lisensie verval het, by die polisie ingehandig moet word. Waar hulle dit gaan bewaar en hoe die polisie die volume gaan hanteer is onseker, maar sal die wapen uiteindelik vernietig word.
Belange organisasies soos SAJWV is tans in gesprek met die Minister oor die pad vorentoe en om sinvolle oplossings te probeer kry vir die onsekerheid wat die Hof se uitspraak nou veroorsaak het. Dit wil voorkom asof die Minister bereid is om deel te neem aan gesprekke en om oplossings te vind. Sekere politieke partye neem ook deel en die VF+ het aangedui dat hulle deur ‘n mosie van privaat lede gaan voorstel om die Wet te wysig en sodoende die probleem aan te spreek.
Die Minister het sy sin gekry. Of hulle die vermoë het om uit te voer waarvoor hulle gevra het, sal gesien moet word. Wat belangrik is, is egter dat eienaars betyds (90 dae voor die vervaldatum) moet aansoek doen vir die hernuwing van hulle vuurwapenlisensies.
Artikel deur Danie Acker. Vir enige verdere inligting of navrae, kontak gerus Ferdi Scheepers by 083 772 2777 of per e-pos by office@rgprok.co.za .