Wie is wettig daartoe geregtig om ‘n bestorwe boedel te beredder?

Hofsaak: Koch v Weiland N.O. en Ander (2022) ZAWCHC 96

Wie is wettig daartoe geregtig om ‘n bestorwe boedel te beredder?

 

In die lig van die komende Nasionale Testamente Week, beveel ons aan dat u kennis neem van hierdie belangrike hofsaak wat handel oor die aspek rondom wie eendag wettig daartoe geregtig sal wees om u boedel te beredder.

Die eiser in hierdie saak, K, het die eerste verweerder, W, gedagvaar. W was die dogter van die oorledene en is genomineer en aangestel as eksekutrise van haar oorlede vader se boedel in terme van sy testament. W het vir K aangestel as haar agent om toe te sien tot die bereddering en afhandeling van haar oorlede pa se boedel.

K se eis was vir die bedrag van ongeveer R1.3 miljoen en was bereken op die voorgeskrewe fooi waarop eksekuteurs geregtig is, nl. 3.5% van die brutto waarde van die boedel bates. Ten tye van die vroegtydige beëindiging van die ooreenkoms aangegaan tussen die partye deur verweerder, het K reeds 90% van die bereddering van die boedel voltooi.

W het eksepsie geneem teen K se eis op gronde daarvan dat K versuim het om ‘n eisoorsaak te openbaar in sy Besonderhede van Vordering. W het beweer dat in terme van die Regulasies wat ‘n verbod plaas op die bereddering, likwidasie en distribusie van ‘n bestorwe boedel deur persone anders as ‘n prokureur, notaris, aktebesorger of regsagent, K nie daartoe gemagtig was om die boedel te beredder nie tensy hy in een van die kategorieë van gekwalifiseerde persone geval het, of alternatiewelik vrygestel was van die omvang van die Regulasies.

Die volgende persone of kategorieë persone is vrygestel van die omvang van die Regulasies: enige raad van eksekuteurs soos beskryf, enige trust maatskappy soos beskryf, enige persone of makelaar onder die Wet op Lisensies 1962, enige natuurlike persoon wat in terme van die oorledene se testament genomineer en aangestel is deur die Meester van die Hooggeregshof insoverre hy/sy persoonlik toesien tot die likwidasie en distribusie van die boedel, die langslewende gade, kind, kleinkind, broer of suster van die oorledene insoverre hy/sy persoonlik toesien tot die likwidasie en distribusie van die boedel, banke in sekere omstandighede, enige persoon wat ‘n ander persoon bystaan wie wettiglik toesien tot die likwidasie en distribusie van ‘n boedel in terme van die Regulasies, enige persoon voltyds in diens van ‘n vakbond in sekere omstandighede, enige persoon wat toesien tot die likwidasie en distribusie van ‘n bestorwe boedel op die opdrag van ‘n prokureur, notaris, aktebesorger of regsagent of enige persoon wat toesien tot die likwidasie en distribusie van ‘n bestorwe boedel ooreenkomstig Artikel 18(3) van die Boedelwet 1965.

Die Wes Kaapse Hooggeregshof moes in hierdie saak twee bepalings maak. Eerstens moes die Hof bepaal of die Regulasies nog van krag is al dan nie, en tweedens of die Regulasies van toepassing is op die Eiser se saak. Die Regulasies was gepromulgeer onder die Wet op die Toelating van Prokureurs, Notarisse en Aktebesorgers 1934 en daarna behou deur die Wet op Prokureurs 1979. The regulasies het ook gestrook met die nuwe Wet op Regspraktyk (“Legal Practice Act”) en is op gronde daarvan vandag steeds van krag onder die laasgenoemde Wet.

‘n Eksekuteur kan nie ‘n ander persoon as sy/haar plaasvervanger aanstel nie en kan ook nie ‘n onherroeplike volmag verleen nie. ‘n Eksekuteur mag egter ‘n agent aanstel om toe te sien tot die bereddering van ‘n bestorwe boedel namens hom- of haarself soos wat W aan K verleen het, mits daardie persoon aan die Regulasies voldoen.

Alhoewel dit nie uit die feite voor die Hof geblyk het dat K in een van die kategorieë van gekwalifiseerde persone geval het wat ‘n bestorwe boedel mag beredder nie, het hy aangevoer dat die Regulasies nie op hom van toepassing was nie aangesien hy in terme van die volmag wat aan hom verleen is toegesien het tot die likwidasie en distribusie van die boedel namens W.

Die Hof het beslis dat die doel en oogmerk van die Regulasies is om te bepaal wie ‘n boedel mag beredder. Die doel en oogmerk van die Regulasie is nie om te bepaal wie as eksekuteur aangestel mag word nie. Die Hof het verder beslis dat die verlening van ‘n volmag aan ‘n agent wie nie in terme van die Regulasies wettiglik ‘n boedel mag beredder nie tot gevolg sal hê dat die Regulasies vrygespring word en ‘n gediskwalifiseerde persoon moontlik ‘n boedel sal beredder.

Die Hof het beslis dat die Regulasies wel op die eiser, K, van toepassing was ten spyte daarvan dat hy namens die verweerder opgetree het. Die Hof het verder beslis dat indien K nie kon bewys dat hy wettig daartoe gemagtig was om die boedel te beredder in terme van die Regulasie nie, hy geen eis teen W gehad het nie. Die Hof het op gronde van voorgenoemde, W se eksepsie toegestaan en is K die geleentheid gebied om sy Besonderhede van Vordering te wysig om ‘n eisoorsaak te openbaar, by versuim om ‘n eisoorsaak te openbaar waarby W die hof op aansoek kan nader om K se eis van die hand te wys.

Die Wes Kaapse Hooggeregshof se uitspraak het ooreengestem met die van die 2012 Appèlhof uitspraak in Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality, waar die Appèlhof bevestig het dat die Regulasies promulgeer was om die publiek te beskerm en te verseker dat die bereddering van boedels in ‘n ordelike en wettige wyse uitgevoer moet word.

Om af te sluit, wanneer u die besluit neem wie om as u eksekuteur te nomineer of wanneer u self as eksekuteur genomineer en aangestel is, moet u die Regulasies in ag neem wanneer u ‘n agent aanstel om die boedel te beredder. Dit is van kardinale belang dat u seker maak dat die persoon wettiglik daartoe geregtig is om die boedel te beredder in terme van die Regulasies.

 

 

Artikel deur Kelly Fourie-Barnard (LLB) – Senior Assosiaat

Vir meer inligting, kontak Kelly gerus by kelly@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Retensieregte in Oordrag van…

Wanneer eiendom gekoop of verkoop word, fokus die meeste mense op die prys, ligging of papierwerk. Wat dikwels oor die hoof gesien word – totdat dit probleme veroorsaak – is…
Read more

Die regsposisie rondom Huurdeposito’s:…

Of jy nou 'n tuinwoonstel verhuur of jou eerste huis huur, een kwessie is feitlik altyd die grootste bron van geskille aan die einde van 'n huurooreenkoms: die deposito. Huurders…
Read more

Deel 1: Oordrag van…

Wanneer 'n persoon te sterwe kom, moet hul boedel – wat al hul bates en laste insluit – volgens die bepalings van hul testament en/of toepaslike wetgewing verdeel word. Hierdie…
Read more