VOORAF REGSADVIES MET DIE KOOP / VERKOOP VAN EIENDOM?

VOORAF REGSADVIES MET DIE KOOP / VERKOOP VAN EIENDOM?

Vir baie van ons is die voorreg om jou eie huis te besit, die begin van welvaartskepping en sekuriteit.

Veral wanneer jy jou eerste woonhuis koop, kan die gedagte aan die proses en wat dit als behels, baie intimiderend wees. Baie mense is onkundig oor terminologië gepaardgaande met die proses en die risikos daaraan verbonde kan jou benoud maak. Jy handel immers met jou grootste bate. 

Is dit dus noodsaaklik om regsadvies in te win voor die tyd?

Die volgende basiese beginsel geld: Jy gaan gebonde wees aan dit waarop jy kontraktueel ooreenkom.

Dit is dus baie belangrik dat jy so vroeg as moontlik met jou eiendomsprokureur skakel sodat hy jou breedvoerig oor die slaggate en prosesse kan inlig – verkieslik nog voordat jy besluit om ‘n aanbod op eiendom te maak. Sodra jy die ooreenkoms geteken het, is jy gebonde aan die bepalings daarin vervat. Skriftelike ooreenkomste kan slegs skriftelik by wyse van ooreenkoms tussen die partye na die tyd verander word en wysigings van die bepalings van ‘n getekende ooreenkoms is nie afdwingbaar, tensy dit op skrif gestel en deur die partye onderteken is nie. Dis belangrik om daarop te let dat ons reg bepaal dat enige ooreenkoms waarby vaste eiendom mee gehandel word, skriftelik moet wees en dat mondelingse ooreenkomste by die koop en verkoop van vaste eiendom, onafdwingbaar is. Dit is geen verskoning om na die tyd te sê dat jy nie geweet het wat jy teken of waarvoor jy jou inlaat nie. Gesels dus vooraf met jou prokureur voordat jy iets doen!

Wat moet ek vooraf met my Prokureur bespreek?

Alhoewel die meeste bepalings van koopkontrakte vir die koop van eiendom voor die hand liggend is, is daar sekere bepalings wat gewoonlik tot misverstande en potensiële dispute aanleiding kan gee bv.

  • – Verbandklousules
  • – Sogenaamde “72 uur” klousules
  • – Die verpligting om sigbare gebreke uit te wys en te openbaar
  • – Meningsverskille oor wat presies ‘n vaste aanhegting is
  • – Korrektheid van Bouplanne
  • – Voorwaardes geregistreer teen die titelakte van die eiendom
  • – Kostes verbonde aan die registrasie van die oordrag van die eiendom sowel as die registrasie van die verband. Beide hierdie koste aspekte is vir die rekening van die Koper
  • – Watse Nakomingsertifikate moet verkry word bv vir die Elektriese installasie, die gasinstallasie en die elektriese omheining van die eiendom.

 

In wie se naam moet die eiendom geregistreer word?

Dis belangrik om vooraf te bepaal in wie se naam die eiendom geregistreer moet word. Jou huweliksgoedere bedeling sal bepalend hieroor wees, maar voorts het jy ook nog die keuse van bv. ‘n Familietrust of Maatskappy waarin die eiendom oorgedra kan word. Hierdie keuses hou praktiese- en regsgevolge in. Doen dus vooraf deeglike huiswerk  hieroor en raadpleeg jou rekenmeester oor die belastingimplikasies verbonde aan jou keuse.

Wie kan die oordrag prokureur aanstel?

Belangrik is om daarop te let dat ‘n Prokureur wie in die registrasie van eiendomsoordragte spesialiseer, aangestel moet word om die proses te hanteer. Sulke prokureurs word Akte- of Transportbesorgers genoem. Oordrag van eienaarskap van vaste eiendom vanaf ‘n eienaar na ‘n koper, word formeel in die Aktekantoor geregistreer. Eers sodra registrasie plaasgevind het, word die koper wettiglik die nuwe eienaar van die eiendom.

Omdat dit die verkoper se eiendom is wat oorgedra word het die VERKOPER die keuse om die aktebesorger van sy keuse aan te wys. Kies dus ‘n firma van prokureurs wie jy met jou grootste bate kan vertrou en wie jy weet met integriteit, professionaliteit en effektiewiteit kan optree.

Artikel deur Dirk Schoeman – Senior Assosiaat.

Vir meer inligting, kontak ons gerus by office@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za

0

Related Posts

“VERSTEEKTE” KOSTES VERBONDE AAN…

Daar is baie min dinge so opwindend, dog senutergend, soos om vir die eerste keer eiendom te koop of verkoop. Alhoewel ‘n eiendomsagent (in die meeste gevalle) en transportbesorger aangestel…
Read more

Minderjarige kinders en vaste…

Die Kinderwet No. 38 van 2005 en Suid-Afrikaanse gemenereg bepaal dat alle persone onder die ouderdom van 18 jaar as minderjarig beskou word en beperkte kontraktuele kapasiteit het.  ’n Geldige…
Read more

Om te verseker of…

Verseker, baie geluk! Wat nou? Daar word gesê dat daar slegs 2 soorte voertuigbestuurders is: diegene wat in 'n botsing betrokke was en diegene wat nog in 'n botsing betrokke…
Read more