“NUWE”/”OU” REGSASPEK TEN OPSIGTE VAN DIE AANWASBEDELING

In twee onlangse hofbeslissings, in onderskeidelik die Hoogste Hof van Appèl en die Hoë Hof, Wes-Kaap, is belangrike aspekte ten opsigte van die huwelik buite gemeenskap van goed waarop die aanwasbedeling van toepassing is, oorweeg.

In die aangeleentheid tussen ST v CT bevestig die Hoogste Hof van Appèl die onderskeid tussen die gestipuleerde aanvangswaarde van die onderskeie partye se boedels wanneer die huwelik ‘n aanvang neem en die lys van bates wat uitgesluit word by die berekening van die aanwas by ontbinding van die huwelik.

Dit is geykte reg dat die pensioenbelang van ‘n gade vir doeleindes van die berekening van die aanwas in ag geneem word.  Die vraagstuk voor die Hof was of ‘n gade se lewende annuïteit as ‘n bate oorweeg kan word om die aanwas te bereken.   Die Hof tref ‘n duidelike onderskeid tussen ‘n gade wat lid is van ‘n pensioenfonds en ‘n gade wat ‘n lewende annuïteit uitgeneem het by ‘n versekeringsmaatskappy.  In Artikel 37A – 37D van die Wet op Pensioenfondse en Artikel 7(7) – 7(8) van die Wet op Egskeidings, word die aanspraak van ‘n gade op die pensioenbelang van die ander gade erken.

Die Hof wys daarop dat in die geval van ‘n lewende annuïteit, vestig die kapitaal in die versekeringsmaatskappy en die vorderingsreg waaroor die gade beskik om ‘n paaiement te vorder van die versekeringsmaatskappy, is afhanklik van die feit dat hy moes gelewe het toe die paaiement verskuldig raak en indien hy nie meer lewe nie, word die lot van die kapitaal bepaal aan die hand van die vraagstuk of hy ‘n begunstigde aangewys het of nie.  Indien die gade gesterf het voordat die paaiement gevorder kon word, sal die voordeel in terme van die lewende annuïteit uitbetaal aan sy genomineerde (as ‘n genomineerde aangewys is) en indien daar nie ‘n genomineerde is nie, word die voordeel uitbetaal na sy bestorwe boedel.  Die Hof beveel dat ‘n lewende annuïteit nie by die berekening van die aanwas in aanmerking geneem word waar die huwelik ontbind word deur ‘n egskeiding nie.  Skrywer is van oordeel dat die kapitale waarde van ‘n lewende annuïteit wel in ag geneem kan word by die berekening van die aanwas indien een van die gades gesterf het.

In TN v NN het die Wes-Kaapse Hoë Hof verskillende botsende beslissings in ander howe ten opsigte van die bepalings van Artikel 6(3) van die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 oorweeg.  Die Hof bevind dat die aanvangswaarde(s) van gades se boedels soos uiteengesit in ‘n huweliksvoorwaarde kontrak en/of sertifikaat slegs prima facie bewys van daardie waardes is.   Gades, sowel as derdes wat ‘n belang by die bepaling van die waardes het, kan getuienis aanbied om die korrekte waardes aan te dui.

Artikel deur Barend Kruger.

Vir verdere kommentaar of inligting, kontak gerus Barend Kruger of Van Niekerk Steyn by Rauch Gertenbach Prokureurs Ing. 044 601-9900 of  office@rgprok.co.za

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more