‘N DIREKTEUR SE FIDUSIÊRE PLIGTE NA BEDANKING
Die fidusiêre pligte van ‘n Direkteur nadat hy / sy bedank het, bly ‘n omstrede saak, veral waar so ‘n persoon in kompetisie met sy vorige werkgewer verkeer. Alhoewel regspraak oor hierdie onderwerp beperk is in Suid-Afrika, is die saak van Big Catch Fishing Tool Proprietary Limited vs. Kemp (17281/18) 2019 ZAWCHC 20 (5 Maart 2019) egter belangrik omdat dit, tot ‘n mate, die regsposisie met betrekking tot die fidusiêre pligte van ‘n Direkteur na bedanking aanspreek.
In hierdie saak, moes die Hof besluit of ‘n voormalige Direkteur van ‘n maatskappy na bedanking steeds fidusiêre pligte verskuldig is en indien wél, of sodanige Direkteur voorlopig verbied kon word om mee te ding as kompetisie (insluitend die afdwinging van Artikel 163 van die Maatskappywet 71 van 2008 (soos gewysig)). Die maatskappy, Big Catch, verskaf onder andere visvangtoerusting en is betrokke by visvang-ekspedisies binne Suid-Afrika. Kemp en ‘n paar ander was Aandeelhouers en Lede van ‘n Trust en is daarna as Direkteure van Big Catch aangestel.
Tydens hul ampstermyn as Direkteure, het die visvang-ekspedisie-besigheid gevorder en uitgebrei na buite die grense van Suid-Afrika. Op ‘n tyd, het Kemp as Direkteur van Big Catch bedank, maar wél as ‘n Aandeelhouer aangebly. Die rede vir die bedanking is irrelevant vir die doel van hierdie artikel, maar die belangrike aspek is die effek wat sodanige bedanking kan hê op die fidusiêre pligte verskuldig. Die Hof was gekonfronteer met die regsvraag of Kemp fidusiêre pligte na sy bedanking verskuldig is en, indien wél, of Kemp en Ander voorlopig verbied moet word om met Big Catch mee te ding, hangende die uitslag van ‘n ander saak, waarvan die besonderhede ook nie in hierdie artikel bespreek sal word nie.
In hierdie saak, het die Hof bevestig dat ‘n uitvoerende Direkteur nie kompeterende besigheidsaktiwiteite binne die maatskappy se bestek van besigheid mag voortsit tydens sy amp as Direkteur nie. Dit kan egter drasties verander wanneer ‘n Direkteur bedank en daar geen ooreenkomste in plek is wat handelsbeperkings of beperkings op die gebruik van vertroulike inligting aandui nie. In so ‘n geval pleeg ‘n Direkteur nie verbreking van fidusiêre pligte deur ‘n soortgelyke besigheid te begin of by ‘n mededinger aan te sluit nie. Indien die maatskappy se vertroulike inligting egter gebruik is of indien sodanige gebruik die maatskappy se belang skend, kan dit as ‘n beskermings waardige oortreding gesien word.
Die Hof herhaal dat, in die afwesigheid van die nodige ooreenkomste, enige stappe om die die Direkteur se vermoeë om inkomste te verdien (insluitend ‘n besigheid) na bedanking te verhoed, heel waarskynlik ‘n skending van die Direkteur se grondwetlike reg soos uiteengesit in Artikel 22 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 is. Indien sulke sanksies toegelaat word, sal Direkteure verplig wees om van loopbaan te verander elke keer as hy/sy ‘n maatskappy verlaat.
Wat die tweede vraag betref, het die Hof bevestig dat ‘n applikant aan die vier vereistes vir ‘n tussentydse interdik moet voldoen: (a) prima facie reg tot die verligting wat verlang word, (b) ‘n grondige bewys van onherstelbare skade indien verligting nie toegestaan word nie, (c) `n Gebalanseerde oorweging van wat sal meer gerieflik wees, die verlening van die tussentydse interdik of eerder die afwysing van die tussentydse interdik, en (d) die afwesigheid van enige ander remedie. Hierdie vereistes moet in samehang oorweeg word. In hierdie saak, het die Hof bevind dat daar nie aan hierdie vereistes voldoen is nie, en was die aansoek om ‘n tussentydse interdik met koste van die hand gewys, spesifiek in die lig daarvan dat Big Catch onder andere nie bewys het dat dit enige onherstelbare skade gely het nie.
Volgens die beginsels en die hofsaak, moet ‘n maatskappy wat ‘n Direkteur wil verhoed om te kompeteer nadat hy/sy bedank het, onder meer, die nodige ooreenkomste in plek hê. Alternatiewelik, moet hulle aan die Hof bewys dat daar ‘n belang is van kommersiële waarde wat beskermingswaardig is. Die erns van handelsbeperkings of vertroulikheids-ooreenkomste word hierdeur uitgelig en moet gesien word as ‘n hoflike herinnering aan die ernstige gevolge wat kan volg indien ‘n maatskappy nie die nodige ooreenkomste in plek het nie.
Artikel deur Marinus Barnard (LLB)
Vir meer inligting, kontak Marinus Barnard by marinus@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za
__
Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.





