KOOPKONTRAKTE: Vis Major en COVID-19
‘n Onvoorsiene ramp soos die die Corona COVID-19 virus wat die wêreld getref het, sal ongetwyfeld, hetsy in ‘n mindere of ‘n meerdere mate, partye tot ‘n bestaande koopooreenkoms se regte en verpligtinge affekteer.
Vis major/ force major beteken in kort ‘n “greater or superior force/ irresistible force” of dan ‘n gebeurtenis wat niemand redelikerswys kon voorsien of voorkom nie. Dit word ook algemeen na verwys as ‘n “Act of God” Die COVID-19 epidemie sal beslis ook as ‘n vis major gebeurtenis geklassifiseer kan word onder die breë definisie van die term. As algemene reel kan ‘n kontrakterende party nie aanspreeklik gehou word vir skade wat veroorsaak is deur ‘n vis major gebeurtenis nie.
Daar moet egter onderskeid getref word tussen kontrakte wat spesifiek bepalings aangaande vis major bevat en die wat nie doen nie, of dit nie voldoende dek nie.
In die geval waar ‘n koopkontrak voorsiening maak vir sulke gebeurtenisse, sal die bewoording van die kontrak bepaal hoe dit die partye se verpligtinge teenoor mekaar affekteer. Dikwels word die werking van die kontrak opgeskort vir ‘n sekere tydperk en word daar ook voorsiening gemaak vir beëindiging van die ooreenkoms.
In die geval waar die kontrak nie spesifiek voorsiening maak vir sulke gebeurtenisse nie, bied die gemenereg moontlik nog steeds ‘n remedie. In kort bepaal die gemenereg dat indien ‘n vis major dit vir ‘n party onmoontlik maak om te presteer, hy/sy vrygestel is van sy/haar verpligtinge in terme van die kontrak. Onmoontlikwording van prestasie sal slegs as remedie geopper kan word as dit objektief beskou, sonder enige skuld aan enige party se kant, werklik vir die partye onmoontlik is om te presteer spesifiek weens die plaasvind van die vis major gebeurtenis. Die blote feit dat ‘n vis major dit finansieel, persoonlik of andersins moeiliker of meer uitdagend maak vir ‘n party om sy verpligtinge na te kom sal nie sommer ‘n party help om op grond van onmoontlikwording sy verpligtinge vry te spring nie.
Dit is belangrik om kennis te neem dat die howe baie streng vereistes stel waaraan voldoen moet word, welke nie vir die doeleindes van hierdie artikel bespreek sal word nie, alvorens ‘n party hom/haarself op onmoontlikwording kan beroep as remedie. Die hof sal na die omstandighede van elke ooreenkoms kyk om te bepaal of dit objektief en daadwerklik vir ‘n party onmoontlik is om te presteer.
Dit sal raadsaam wees vir partye tot ‘n ooreenkoms om eerder pro-aktief op te tree en ‘n klousule in te voeg wat spesifiek handel oor vis major gebeurtenisse soos die van die COVID-19. Kontak ons gerus om u by te staan met die bewoording van die spesifieke bepaling.
Kontak: Paul Delport by office@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za .





