Konflik met jou Huiseienaarsvereniging (en/of beheerliggaam)? Nader die ombud vir oplossings.

Konflik met jou Huiseienaarsvereniging (en/of beheerliggaam)?

Nader die ombud vir oplossings.

Suid-Afrika, en veral die Tuinroete, beleef tans ‘n drastiese toename in behuisingsontwikkelings wat oor die algemeen gepaard gaan met die oprigting van Huiseienaarsverenigings en/of beheerliggame (watookal van toepassing). Verskillende opinies en voornemens tussen Huiseienaarsverenigings (en/of beheerliggame) en huiseienaars kan lei tot onvermydelike geskille wat nie altyd tussen die betrokke partye opgelos kan word nie. Die “Community Schemes Ombud Service” (CSOS) is spesifiek geskep om hierdie situasies aan te spreek en om huiseienaars en administrateurs te voorsien met opsies om te poog om hierdie geskille op ‘n waardige en vreedsame wyse op te los.

Die CSOS het ‘n omvattende beleid en poog om dispute soos, maar nie beperk tot, geraasklagtes, parkeer- en troeteldier-geskille op te los. Volgens artikel 38(1) van die “Community Schemes Ombud Service Act 9 of 2011” mag enige persoon aansoek doen by die CSOS indien die persoon ‘n party tot die dispuut is, of wesenlik daardeur beïnvloed is. Die aansoek is ‘n informele en bekostigbare vorm van alternatiewe geskilbeslegting wat gefasilliteer word deur gekwalifiseerde versoeners (“conciliators”) en beoordeelaars (“adjudicators”). In meeste gevalle kan partye onafhanklik optree sonder regsverteenwoordigers, maar dit is raadsaam om ‘n kundige te raadpleeg om te evalueer of jou eis oor enige meriete beskik.

Om aansoek te doen moet ‘n voorgeskrewe vorm, beskikbaar op die CSOS webtuiste,  voltooi en ingedien word via e-pos, aflewering per hand of geregistreerde pos en vergesel word met die nodige fooi. Na die dispuut geregistreer is, moet die applikant die gronde waarop gesteun word en die gekose uitkoms spesifiseer. Die CSOS sal die geldigheid van die eis assesseer en indien die eis suksesvol is, die aansoek verwys vir konsiliasie. Tydens konsiliasie vind onderhandeling in die vorm van ‘n verhoor plaas en word die partye deur die versoener bygestaan om ‘n skikking te bereik. Sou ‘n skikking onmoontlik wees, reik die versoener ‘n kennisgewing uit en verwys die dispuut na beregting (“adjudication”).

Tydens beregting word bykomende ondersoeke uitgevoer waar verdere dokumentasie aangevra kan word, beëdigde verklarings ingedien kan word en terrein inspeksies kan plaasvind. ‘n Aangestelde beoordelaar oorweeg die bewysstukke en maak ‘n bindende bevel wat dieselfde effek het as ‘n hofbevel. Indien die bevel nie nagekom word nie, moet ‘n regsverteenwoordiger aangestel word om die bevel by die betrokke hof af te dwing. CSOS-aansoeke is egter ‘n relatiewe nuwe prosedure en kan sommige howe onseker wees oor hoe om uitvoering aan hierdie bevele te gee.

Die nuwe proses om ‘n aansoek by die CSOS te loods is koste-effektief en bevele word gewoonlik binne ‘n redelike tydperk uitgereik. Konflik met jou Huiseienaarsvereniging (en/of beheerliggaam) kan ‘n hangende wolk oor jou persoonlike lewe wees en lei tot ongemak in jou gemeenskap. Om hierdie geskille in jou persoonlike hoedanigheid aan te spreek kan onherstelbare skade aan verhoudings binne gemeenskapskemas veroorsaak en kan voorkom word deur gebruik te maak van die dienste van die CSOS om konflik op ‘n vriendskaplike wyse op te los. Indien u bystand vanaf die CSOS benodig, kontak die Wes-Kaap tak by: wc-complaints@csos.org.za of loer in op hul webtuiste: www.csos.org.za .

 

 

Artikel deur Suegnet Van Rensburg, Kandidaat prokureur (LLB)

Vir enige verdere navrae kan u Suegnet kontak by suegnet@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za.

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more