IS U TESTAMENT WETTIG EN GELDIG?

Ons spandeer die meeste van ons tyd om ‘n finansieël veilige en stabiele toekoms vir onsself en ons geliefdes op te bou. So of jy jonk is en onlangs ‘n loopbaan begin het, of middeljarig en op die kruin van jou loopbaan is, of dalk reeds jou skoolgeld betaal het en nou die afgetrede lewe geniet, elkeen het sy unieke ‘boedel’ – die som van ons lewe se werk.

Terwyl ons dalk gelukkig genoeg is om elke dag wakker te word en beheer oor ons eie boedels uit te oefen en so vir ons geliefdes te voorsien, sal daar ‘n dag kom wanneer ons nie meer daar is nie. Wat  gebeur met jou boedel wanneer daardie dag aanbreek? Ons advies is om te verseker dat u behoorlike boedelbeplanning gedoen het en ‘n wettige testament in plek het.

Om in Suid-Afrika te woon, beteken dat jy gelukkig is om testamentêre vryheid te hê – dit beteken dat jy tot die laaste detail kan dikteer hoe jy jou boedel wil bestuur en versprei nadat jy afgesterf het. Dit is nou te sê indien hierdie wense uiteengesit is in ‘n regsgeldige dokument wat voldoen aan die formele vereistes wat deur die wet voorgeskryf word.

Pasop! Om u wense op ‘n stukkie papier te skryf of om ‘n “gratis testament” af te laai vanaf die internet en te voltooi, beteken nie noodwendig dat u ‘n geldige testament in terme van die Wet op Testamente het nie. Sou u testament as ongeldig bevind word, is dit gelykstaande daaraan dat u glad nie een  het nie. U boedel sal dan volgens die Wet op Intestate Erfopvolging versprei word en geen aandag sal geskenk word aan enige wense wat u mag gehad het nie. Wetgewing bepaal dan in so ‘n geval wie jou erfgename sal wees asook die erfenis wat hulle sal ontvang.

Behoorlike en professionele boedelbeplanning sal u in staat stel om finansiële kwessies soos kontanttekorte en boedelbelasting te reguleer en moontlik te bekamp. Het u al gedink aan die gevolge van u huweliksregime, moontlike egskeidingsbevele, onderhoudsopdragte en lewensversekeringspolisse? Ons beveel aan dat u dit doen aangesien al hierdie faktore waarskynlik ‘n impak op u bestorwe boedel sal hê.

Om ‘n testament te hê, laat jou toe om nie net ‘n voog vir jou minderjarige kind / kinders te nomineer nie, maar ook om iemand te nomineer wie jy vertrou om as ‘n trustee in ‘n testamentêre trust op te tree wat ingestel kan word om die oorerwing van ‘n kind te beskerm totdat hy / sy ‘n spesifieke ouderdom bereik.

Voorbeelde van die opsies wat beskikbaar is by die opstel van ‘n testament is om ‘n lewenslange vruggebruik oor jou bates te skep ten gunste van jou gade of die vestiging van ‘n testamentêre trust in gevalle waar die erfgename nie as “finansieel verstandig” gesien word nie. Geen van hierdie opsies sal egter van krag en effek wees indien dit nie in ‘n wettige geldige testament vervat is nie!

Niemand van ons weet wat die dag van môre inhou nie. Al wat ons weet, is dat, ongeag hoe groot of klein jou boedel mag wees – daar kom ‘n dag wat jy nie meer daar is nie en is dit dan van uiterste belang dat jou boedel geadministreer sal word en verdeel sal word volgens jou wense. Maak seker dat jou testament opgestel word deur ‘n professionele persoon wat oor die nodige kennis en kundigheid beskik om te verseker dat u wense behoorlik aangeteken en uitgevoer sal word.

Rauch Gertenbach Prokureurs se professionele personeel is gereed om u gratis by te staan met die hersiening van u testament. Kontak ons by 044 601 9900 of office@rgprok.co.za. Terme en voorwaardes geld

0

Related Posts

Die regsposisie rondom Huurdeposito’s:…

Of jy nou 'n tuinwoonstel verhuur of jou eerste huis huur, een kwessie is feitlik altyd die grootste bron van geskille aan die einde van 'n huurooreenkoms: die deposito. Huurders…
Read more

Deel 1: Oordrag van…

Wanneer 'n persoon te sterwe kom, moet hul boedel – wat al hul bates en laste insluit – volgens die bepalings van hul testament en/of toepaslike wetgewing verdeel word. Hierdie…
Read more

“VERSTEEKTE” KOSTES VERBONDE AAN…

Daar is baie min dinge so opwindend, dog senutergend, soos om vir die eerste keer eiendom te koop of verkoop. Alhoewel ‘n eiendomsagent (in die meeste gevalle) en transportbesorger aangestel…
Read more