Baie maatskappye bevind hulleself onder finansiële druk in vandag se uitdagende ekonomiese omstandighede en komplekse handelsomgewing. Dit is van uiterste belang dat direkteure van ondernemings onmiddellik gepaste aksie en besluite neem wanneer dit aan die lig kom dat hulle besigheid in finansiële nood verkeer. Sodoende kan ekspert kennis en advies betyds ingewin word en ‘n reddingsplan in werking gestel word om die gevaar van likwidasie en dus die einde van hulle onderneming te voorkom.
Herstrukturering van maatskappye in finansiële nood is aan die toeneem wêreldwyd. In ooreenstemming met hierdie tendens, stel Hoofstuk 6 van die Maatskappywet, Nr 71 van 2008 (die Wet) sakeredding bekend aan die Suid-Afrikaanse sake-landskap. Sakeredding-verrigtinge word gedefinieër deur die Wet as verrigtinge om die rehabilitasie van ‘n maatskappy wat in finansiële nood verkeer te fasiliteer, dit wil sê ‘n maatskappy wat:
- Na alle waarskynlikheid nie sy skuld kan betaal wanneer dit verskuldig word, binne die onmiddellik daaropvolgende ses maande nie, of
- ‘n maatskappy wat waarskynlik insolvent gaan raak binne daardie selfde tydperk.
Sakeredding-verrigtinge begin dus in die eerste plek met die doel om ‘n maatskappy wat in ‘n benarde finansiële posisie verkeer te “red”, deurdat:
- die maatskappy in die hande van ‘n sakeredding-praktisyn geplaas word om die dag tot dag bestuur van die maatskappy onafhanklik of in samewerking met die bestaande bestuur, oor te neem, asook om beheer te neem oor die maatskappy se verwante bates;
- krediteure verbied word om eise teen die maatskappy af te dwing gedurende die verloop van die sakeredding-verrigtinge;
- die sakeredding-praktisyn ‘n sakereddingsplan ontwikkel, steun daarvoor bekom by die meerderheid van krediteure en dan implementeer, waarvolgens die maatskappy dan sal handel dryf en daardeur homself uit die finansiële posisie waarin dit hom bevind, sal kry.
In die praktyk sal die direkteur of raad van direkteure van die maatskappy ‘n resolusie neem om te begin met sakeredding en dit liasseer by CIPC (Companies and Intellectual Property Commission), waarna ‘n sakeredding-praktisyn deur die direkteure self aangestel mag word. Tipies sal die Sakereddingspraktisyn meeste van die administrasie rondom die liasseringsproses hanteer. Alternatiewelik mag ‘n geaffekteerde persoon, (per definisie sluit dit in aandeelhouers, krediteure en werknemers en / of vakbonde waaraan die werknemers behoort), ook aansoek doen by die Hooggeregshof om die maatskappy in sakeredding te plaas.
Sodra die sakeredding-verrigtinge ‘n aanvang neem, sal die sakeredding-praktisyn beheer van die maatskappy neem vir die duur van die sakeredding-verrigtinge en sal dan voortgaan om:
- ondersoek in te stel na die sake van die maatskappy;
- vergaderings te belê met krediteure en ander geaffekteerde persone;
- ‘n sakeredding-plan op te stel wat, indien dit aanvaar word deur die geaffekteerde persone, die maatskappy in staat sal stel om voort te gaan om handel te dryf en sy skulde te delg òf om binne die sakereddingsproses, alle bates te verkoop, die opbrengste onder krediteure te verdeel en op te hou om handel te dryf.
Werknemers wat in diens van die maatskappy voor die instelling van die sakeredding was, sal in ooreenstemming met Artikel 136 van die Wet op Maatskappye, in diens bly van die maatskappy, behalwe in gevalle waar natuurlike personeelvermindering plaasvind of waar die werknemers van die maatskappy, in ooreenstemming met die toepaslike Arbeidswetgewing, instem tot verskillende terme en voorwaardes. Die aflegging van enige sodanige werknemers wat moontlik beoog word in die sakereddingsplan sal in elk geval onderhewig wees aan die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Die hooffokus met die aanvang van sakeredding-verrigtinge is om ‘n maatskappy in staat te stel om sy besigheid vir ‘n periode te bedryf sonder die risiko en druk van skuldeisers wat die betaling van skuld wil afdwing en, onder sekere omstandighede, ‘n aansoek sou wou bring vir die likwidasie van die maatskappy. Eienaars van ondernemings wag dikwels te lank om die meer wenslike opsie van sakeredding uit te oefen, of soms is die besigheid nie in staat om homself uit die moeilikheid te bedryf nie. In beide gevalle is dit waarskynlik dat likwidasieverrigtinge ingestel sal word teen hulle.
Dit moet in ag geneem word dat dit moontlik is vir ‘n maatskappy wat oorspronklik finaal gelikwideer is, om verligting te kry deurdat die likwidasie opgeskort kan word deur ‘n hofbevel en die maatskappy onder sakeredding geplaas word.
Artikel deur: Basson Piek (MBA)
Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, kontak gerus vir Basson by 044 601 9900 / office@rgprok.com. www.rgprok.co.za