GEÏMPLISEERDE WAARBORG IN TERME VAN DIE VERBRUIKERSBESKERMINGSWET

GEÏMPLISEERDE WAARBORG IN TERME VAN DIE VERBRUIKERSBESKERMINGSWET

Verbruikers bevind hulself dikwels in ‘n situasie waar hulle goedere gekoop het net om later uit te vind dat die goedere wat hulle gekoop het defektief is en nie geskik is vir die doel waarvoor dit aangekoop is nie. Die verbruiker sal dan poog om die goedere terug te gee aan die verskaffer, maar word gekonfronteer met personeellede wat weier om hul samewerking te gee deur die teruggawe van die defektiewe goedere te aanvaar aangesien hul maatskappybeleid uitdruklik bepaal dat hulle nie die teruggawe van goedere mag aanvaar nie.

Dit is ‘n algemene wanpersepsie onder verbruikers dat indien die verbruiker ‘n mondelinge of skriftelike koopooreenkoms met ‘n verskaffer gesluit het ingevolge waarvan die verbruiker afstand doen van ‘n waarborg of ‘n waarborg nooit ‘n besprekingspunt was nie, dat hul dan geen regsgronde het waarop hul kan staatmaak om hulself te beskerm nie. Die Verbruikersbeskermingswet, Wet 68 van 2008, soos gewysig, (die “VBW”) is uitgevaardig om die sosiale en ekonomiese welsyn van verbruikers te beskerm en te ontwikkel deur ‘n regverdige, toeganklike en volhoubare mark vir verbruikersprodukte en -dienste te bevorder om sodoende situasies soos hierbo genoem, te voorkom.

GEÏMPLISEERDE WAARBORG – ARTIKEL 56(2) VAN DIE VBW

In terme van Artikel 56 van die VBW bestaan ​​daar ‘n stilswyende waarborg in enige transaksie of ooreenkoms vir die verskaffing van goedere aan ‘n verbruiker. Dit beteken dat die verskaffer waarborg dat die goedere van ‘n goeie gehalte, vry van gebreke en redelik geskik is vir die doeleindes waarvoor dit oor die algemeen bedoel is om gebruik te word.

Dit verbruiker moet egter daarop let dat in ‘n situasie waar ‘n transaksie vir die verkoop van goedere beklink is en die verskaffer die verbruiker behoorlik ingelig het dat die goedere verkoop word onderhewig aan sekere gebreke en die verbruiker die goedere óf uitdruklik óf stilswyend aanvaar, sal die verbruiker nie op ‘n latere stadium op die geïmpliseerde waarborg kan staatmaak nie.

WEGDOENING VAN DIE GEÏMPLISEERDE WAARBORG

Artikel 48 van die VBW handel oor onbillike, onredelike of onregverdige kontrakbedinge en bepaal dat ‘n verskaffer nie mag aanbied om enige goedere of dienste te verskaf of ‘n ooreenkoms mag aangaan om enige goedere of dienste te verskaf op voorwaardes wat onbillik, onredelik en onregverdig is nie. Verder mag die verskaffer nie versoek dat die verbruiker afstand doen van enige regte of enige sodanige voorwaardes of bepalings oplê as ‘n voorwaarde vir die aangaan van ‘n kooptransaksie nie.

Artikel 51 bevestig dan verder dat ‘n verskaffer nie ‘n transaksie of ooreenkoms onderworpe aan enige bepaling of voorwaarde mag sluit indien die algemene doel of effek daarvan is om die doel van die VBW te verydel of om ‘n verbruiker van ‘n reg in terme van die VBW te ontneem nie.

Wat beteken dit vir die verbruiker? Enige skriftelike of mondelinge kontraktuele bepaling wat tot die gevolg het dat die verbruiker afstand moet doen van enige regte ingevolge die VWB, is nie afdwingbaar nie. Die verskaffer sal dus nie kan kontrakteer buite die geïmpliseerde waarborg wat deur die VBW verskaf word nie. Dit is inderdaad goed vir die verbruiker en word hul regte hierin beskerm, maar moet verbruikers egter versigtig wees om die VBW te misbruik vir hul eie persoonlike voordeel.

WAT STAAN DIE VERBRUIKER TE DOEN INDIEN DIE VERBRUIKER DEFEKTIEWE GOEDERE ONTVANG HET?

Indien daar defektiewe goedere aan u verkoop is, kan u binne 6 (ses) maande na ontvangs van die goedere, die goedere sonder boete aan die verskaffer teruggee op die verskaffer se eie risiko en koste. Die verbruiker is verder geregtig daarop om te versoek dat die goedere herstel, alternatiewelik vervang word of dat die verbruiker se geld terugbetaal word.

Sou die verskaffer die goedere terugneem om dit te herstel, en binne drie maande na daardie herstel, die fout of defek nie reggestel is nie, of ‘n verdere fout of defek ontdek word, moet die verskaffer die goedere vervang of die koopprys aan die verbruiker terugbetaal.

HOE KAN DIE VERBRUIKER SY REGTE TEEEN ‘N NIE-SAMEWERKENDE VERSKAFFER AFDWING?

Ingevolge Artikel 69 van die VBW, sal die verbruiker alle remedies waarvoor die wet voorsiening maak moet uitput voordat die verbruiker die hof nader vir die regshulp wat hy of sy soek. Die volgende remedies word in die VBW voorgeskryf:

  1. Verwys die aangeleentheid na die Verbruikerstribunaal;
  2. Verwys die aangeleentheid na die toepaslike Ombud;
  3. Doen aansoek by die Verbruikershof van die provinsie met jurisdiksie oor die aangeleentheid;
  4. Verwys die aangeleentheid na ‘n alternatiewe geskilbeslegtingsagent;
  5. Dien ‘n klagte by die Verbruikerskommissie in.

Ter opsomming, verbruikers word voorsien van ‘n 6 maande geïmpliseerde waarborg wanneer hulle goedere koop. Die verskaffer sal onregmatig optree wanneer hy bepalings in ‘n koopooreenkoms oplê ingevolge waarvan die verbruiker afstand doen van hul regte in terme van die VBW. Daar bestaan egter uitsonderings op die algemene reël en sal dit raadsaam wees dat u eers met u prokureur konsulteer voordat u enige regstappe teen die verskaffer neem.

 

Artikel deur Ruben Maritz (LLB), Assosiaat

Vir verdere inligting kan Ruben gekontak word by ruben@rgprok.com of 044 601 9900.

www.rgprok.co.za

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more