Die regsposisie rondom Huurdeposito’s: Wat Elke Huurder en Verhuurder Moet Weet

Of jy nou ‘n tuinwoonstel verhuur of jou eerste huis huur, een kwessie is feitlik altyd die grootste bron van geskille aan die einde van ‘n huurooreenkoms: die deposito. Huurders verwag ‘n volle terugbetaling; verhuurders verwag om skade te verhaal. Maar wat sê die wet?

In Suid-Afrika word die hantering van deposito’s gereguleer deur die Wet op Huurbehuising 50 van 1999, spesifiek Artikels 4 en 5. Om hierdie bepalings te verstaan is noodsaaklik, nie net om geskille te vermy nie, maar om regverdigheid aan albei kante te verseker.

Wat Gebeur met Jou Deposito?

Wanneer ‘n verhuurder ‘n deposito vereis, bepaal artikel 5(3)(d) dat dit in ‘n rente-draende bankrekening by ‘n geregistreerde finansiële instelling geplaas moet word. Die rente behoort aan die huurder, en die koers moet gelyk of hoër wees aan dié van ‘n spaarrekening. Die huurder het reg om enige tyd tydens die huurtermyn geskrewe bewys van die rente aan te vra, en die verhuurder is verplig om dit te verskaf.

Inspeksies: Die Beste Beskerming

Die wet laat dit nie aan goedgelowigheid oor nie. Volgens artikel 5(3)(e) moet ‘n gesamentlike ingaande inspeksie plaasvind voordat die huurder intrek. Hierdie inspeksie dokumenteer enige bestaande gebreke en beskerm beide partye. Aan die einde van die huurtermyn vereis artikel 5(3)(f) dat nog ’n gesamentlike uitgaande inspeksie binne drie dae, voor die huurooreenkoms eindig,  gedoen moet word.

Belangrike bepalings:

  • Indien die verhuurder versuim om die inspeksies uit te voer, word daar in terme van artikel 5(3)(j) geag dat die eiendom in ’n goeie toestand is en moet die volle deposito met rente terugbetaal word.
  • As die huurder nie op die versoek vir die uitgaande inspeksie reageer nie, mag die verhuurder alleen inspeksie doen. Ingevolge artikel 5(3)(k) mag die verhuurder dan redelike herstelkoste van die deposito aftrek mits kwitansies voorsien kan word.

Wanneer Moet die Deposito Terugbetaal Word?

Die Wet stel drie spesifieke tydlyne, afhangende van die omstandighede:

1. Geen skade of agterstallige bedrae.

Die volle deposito plus rente moet binne 7 dae na die beëindiging van die huur terugbetaal word. (Artikel 5(3)(i))

2. Skade teenwoordig en agterstallig bedrae verskuldig aan verhuurder.

Die verhuurder kan die skade van die deposito aftrek, maar moet kwitansies voorsien en die oorblywende bedrag binne 14 dae, na die eiendom in besit geneem is, aan die huurder terugbetaal. (Artikel 5(3)(g))

3. Indien die huurder nie die inspeksie bygewoon het nie.

Die verhuurder moet inspeksie doen en die oorblywende balans van die deposito binne 21 dae terugbetaal. Herstelkoste moet bewys word. (Artikel 5(3)(m))

Wat As Daar ’n Geskil Is?

Indien ’n verhuurder die deposito onregmatig weerhou, het huurders die volgende remedies:

  • Lê ’n klag by die Huurbehuisingstribunaal—’n toeganklike, koste-vrye opsie wat bindende beslissings kan uitreik.
  • Nader die Hof.

Let wel: Die Tribunaal het geen jurisdiksie om ‘n uitsettingsbevel te verleen nie, maar kan wel die terugbetaling van deposito’s en agterstallige huurgelde gelas.

Wenke vir die Gladde Beëindiging van ’n Huurkontrak

Verhuurders behoort:

  • ’n Geskrewe huurooreenkoms te gebruik;
  • Duidelike rekords van inspeksies, rente en kwitansies te hou;
  • Alle prosedures streng te volg om nie die reg op skadevergoeding te verloor nie.

Huurders behoort:

  • Beide inspeksies by te woon en alles met foto’s te dokumenteer;
  • ’n Geskrewe uiteensetting van die deposito terugbetaling aan te vra;
  • Alle huur en herstelkoste ten volle te betaal voor hul uittrek.

Die Wet op Huurbehuising bring duidelikheid en struktuur aan wat dikwels ’n grys area is, teen die einde van ’n huurtermyn. Deur die bepalings van Wet te verstaan en toe te pas, kan beide huurders en verhuurders onnodige konflik vermy en ’n regverdige en wettige einde tot die huurooreenkoms verseker.

Artikel deur Ruben Maritz (LLB), Assosiaat

Vir meer inligting, kontak Ruben gerus by ruben@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.com

0

Related Posts

Unlocking the Truth About…

Whether you’re renting out a garden flat or leasing your first home, one issue remains the most contested at the end of a lease: the deposit. Tenants expect a full…
Read more

Deel 1: Oordrag van…

Wanneer 'n persoon te sterwe kom, moet hul boedel – wat al hul bates en laste insluit – volgens die bepalings van hul testament en/of toepaslike wetgewing verdeel word. Hierdie…
Read more