Wanneer ‘n persoon te sterwe kom, moet hul boedel – wat al hul bates en laste insluit – volgens die bepalings van hul testament en/of toepaslike wetgewing verdeel word. Hierdie boedelbates mag onroerende eiendom, soos ‘n huis, deeltiteleenheid, plaas of erf insluit. ’n Goeie begrip van hierdie beginsels kan eksekuteurs en begunstigdes help om die proses met groter selfvertroue en minder vertragings aan te pak.
Die erfgenaam of erfgename aan wie onroerende eiendom oorgedra moet word, sal deur die oorledene se testament of, by gebrek aan ‘n testament, deur die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987, bepaal word. Dit is belangrik om te verstaan dat erfgename nie outomaties met die dood van die erflater, eienaars van onroerende eiendom word nie, maar dat ’n formele oordrag deur ’n aktebesorger in die aktekantoor geregistreer moet word.
Die boedeladministrasieproses word deur die Boedelwet Nr. 66 van 1965 gereguleer en begin met die aanmeld van die boedel by die Meester van die Hooggeregshof. Die Meesterskantoor stel ’n eksekuteur of Meestersverteenwoordiger aan om die administrasie van die boedel te behartig. ’n Eksekuteur sal óf deur die testament van die oorledene benoem wees, óf deur intestate erfgename genomineer word, in gevalle waar daar geen testament nagelaat is nie.
Artikel 13 van die Boedelwet bepaal dat boedel bates deur geen persoon gelikwideer of verdeel mag word behalwe deur die eksekuteur of meestersverteenwoordiger wat deur die Meester van die Hooggeregshof aangestel is nie. Die benoemde eksekuteur het dus geen gesag om bates te vervreem of te verdeel voordat hy of sy deur die Meester aangestel is, kragtens ‘n Magtigingsbrief of Eksekuteursbrief nie.
Sodra die eksekuteur aangestel is, sluit sy/haar verantwoordelikhede die volgende pligte, in dié volgorde, in:
• Om alle boedel bates te identifiseer en beheer daarvan te neem;
• Om die boedel laste (of skuld) te identifiseer en te begin delg;
• Om ‘n Likwidasie- en Distribusierekening (L&D-rekening) van die genoemde bates en laste saam te stel en by die Meesterskantoor in te dien vir goedkeuring;
• Om uiteindelik tot die distribusie van die oorblywende bates aan die regmatige erfgename, in ooreenstemming met die testament of die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging, toe te sien.
Die likwidasie- en distribusierekening word aan die Meesterskantoor voorgelê vir goedkeuring en moet vir inspeksie ter insae lê by die Meesterskantoor, nadat die Meester dit ondersoek het.
Artikel 42(1) van die Wet op die Administrasie van Boedels bepaal dat die aktebesorger ‘n sertifikaat by die Registrateur van Aktes moet indien, wat bevestig dat die oordrag in ooreenstemming met die likwidasie- en distribusierekening is, dat die rekening ter insae gelê het en dat daar geen besware daarteen ontvang is nie. ’n Oordrag kan dus nie plaasvind voordat die voorgeskrewe inspeksieperiode vir die L&D-rekening verby is nie.
Die aktebesorger se oordragskostes, koste vir die verkryging van enige vereiste uitklaringsertifikate, en enige addisionele aansoeke wat gebring moet word, sal deur die boedel gedra word. Indien daar ’n kontanttekort in die boedel is, kan die erfgename kies om persoonlik die tekort in te betaal of om die eiendom uit die boedel te verkoop. Daar is geen hereregte betaalbaar wanneer onroerende eiendom van die boedel aan erfgename oorgedra word nie, aangesien hierdie transaksies vrygestel is van hereregte.
Hoewel enige persoon as eksekuteur van ‘n boedel benoem kan word, mag slegs ‘n aktebesorger die registrasie van onroerende eiendom by die Akteskantoor hanteer. Rauch Gertenbach hanteer die oordragte van eiendom in boedels waarin die firma as benoemde eksekuteur optree, asook in boedels waar die oordragte aan ons verwys word deur onafhanklike eksekuteurs.
Kontak ons gerus met enige navrae rakende boedeloordragte of die administrasie van boedels by aleida@rgprok,com of 044 601 9900. www.rgprok.com
Artikel deur Aleida Kraamwinkel
Prokureur & Aktebesorger
LLB (UNISA)