“Daar is niks wat gesinsverdeeldheid veroorsaak soos`n testament nie”

Bovermelde was die woorde van `n Regter in die Hoogste hof van Appél in `n uitspraak in 2006. Die belangrikheid van hierdie aanhaling het weereens weerklank gevind in die onlangse saak van Goosen and Another v Wiehahn and others, ook in die Hoogste hof van Appél.

Die feite in die saak was dat die testateur in `n testament, wat hy op 27 November 1990 verly het, sy twee plase bemaak het aan sy vrou. Die bemaking was egter onderworpe aan sekere voorwaardes.  Die belangrikste voorwaardes was dat indien sy vrou sou besluit om die plase te verkoop dan moes sy skoonseun die eerste opsie hê om die plase vir onderskeidelik R20 en R30 per morg te koop. Dieselfde opsie word aan die skoonseun verleen indien sy vrou later te sterwe sou kom. Die vrou het in Desember 2017 gesterf en die skoonseun het voortgegaan om die opsie uit te oefen om die plase te koop, soos gestipuleer in die testament. Een van die erfgename was nie tevrede met die prys vir die aankoop van een van die plase nie omdat dit `n fraksie van die werklike waarde daarvan was, naamlik R5.2 miljoen. Sy het aangevoer dat die prys by uitstek onredelik was en dat dit nie haar vader (die testateur) se wens was nie.

In die Hoë Hof was daar geargumenteer dat die skoonseun se uitoefening van die opsie om die plase te koop die regsbasis was van die koopkontrak wat later gesluit is. Anders gestel, die voorwaarde in die testament om aan die skoonseun `n opsie te verleen om die plase te koop was gegrond op kontraktuele beginsels. Indien grond verkoop word moet daar voldoen word aan die formaliteite van die wet op die Vervreemding van Grond. Die hof het bevind dat die skoonseun in die uitoefening van sy opsie om die plase te koop nie voldoen het aan die formele vereistes van die wet nie en by gevolg is die koopkontrak nietig verklaar.

Die Hoogste hof van Appél beslis egter dat indien die bewoording van `n testament uitgelê word, daar gestreef moet word om uiting te gee aan die wense van die testateur. Die uitleg moet geskied aan die hand van die bewoording van die testament en die omstandighede wat geheers het ten tyde van die opstel van die testament. Die hof bevind dat die skoonseun se reg om die opsie uit te oefen geleë was in `n testamentêre bemaking wat die wens van die testateur was en dat dit nie `n kontraktuele ooreenkoms was, soos wat die Hoë Hof bevind het nie. Die skoonseun word dus toegelaat om die plaas te koop teen `n fraksie van die werklike waarde daarvan.

My opinie is dat die lesse wat ons uit dié beslissing kan leer tweeledig is, nl. Die persoon wat die testament opstel moet duidelike taal gebruik om die wense van die testateur te verwoord en dit is van uiterste belang om jou testament gereeld te laat hersien om seker te maak dat dit nog steeds jou wense verwoord.

 

Vir meer inligting kontak Janél Kruger by office@rgprok.com of 044 601 9900.

www.rgprok.co.za

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more