BORGTOG TEENOOR VERHOOR
Na aanleiding van heelwat navrae wat ons ontvang het insake onlangse hoë profiel misdade, gee ons graag meer duidelikheid rondom borgtog teenoor verhoor.
Wanneer ‘n persoon of persone gearresteer en aangekla word van ‘n beweerde misdaad, is hy/sy geregtig om aansoek te doen om borgtog. Die staat in samewerking met die ondersoek-beampte in daardie saak (polisie) sal dan besluit of hierdie aansoek om borgtog geopponeer gaan word al dan nie. Gedurende hierdie formele borgaansoek is dit belangrik om te onthou dat die aansoek geensins rondom die meriete van die beweerde misdryf beslis word nie. Die Strafproseswet maak voorsiening vir sekere gronde waaraan voldoen moet word, alvorens die hof van mening is dat dit in belang van geregtigheid is om hierdie persoon/persone vry te laat op borg, of selfs net op waarskuwing, hangende die afhandeling van die saak. Die gearresteerde persoon hoef geensins te getuig of vrae te beantwoord oor die meriete (feite) van die saak nie.
Sou die persoon dan op waarskuwing (borg) vrygelaat word, beteken dit geensins dat hy/sy vrygelaat is, en vry is om te gaan nie. Dit beteken slegs dat dit in belang van geregtigheid is dat hierdie persoon buite die gevangenis is, hangende verdere ondersoek sowel as die verhoor, wat op ‘n latere stadium plaasvind.
Gedurende die verhoor, kan hierdie beskuldigde wat op borgtog is, dan self op elke verhoordag hof toe gaan en na afloop daarvan weer huistoe gaan. Solank hierdie persoon nie sy/haar borgvoorwaardes wat die hof opgelê het, verbreek nie, is so persoon vry om te beweeg soos enige ander persoon. Eers na skuldigbevinding, kan die hof die borgtog intrek of verder verleng tot na vonnisoplegging.
Selfs al word die beskuldigde skuldig bevind en gevonnis, is hy/sy steeds geregtig op terugbetaling van enige borggelde wat betaal was.
So wanneer u weer op die nuus hoor of in die media lees dat ‘n persoon wat op enige misdaad in die hof verskyn het, vrygelaat is op waarskuwing, beteken dit slegs dat hy/sy nie in hegtenis is tydens die verhoor nie, en NIE dat hy/sy ‘n waarskuwing gekry en vrygelaat is op die beweerde misdaad nie.
Vir enige verdere navrae of meer duidelikheid hieroor, kontak gerus vir Ferdi Scheepers van Rauch Gertenbach Prokureurs by office@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za