Verseker, baie geluk! Wat nou?
Daar word gesê dat daar slegs 2 soorte voertuigbestuurders is: diegene wat in ‘n botsing betrokke was en diegene wat nog in ‘n botsing betrokke gaan wees.
Hoe morbied bogenoemde statistiek ook al mag wees, bedink vir ‘n oomblik dat slegs 30 persent van voertuigbestuurders op SA paaie versekering het. Dit is korrek, op beste is slegs 1 uit elke 3 voertuie op ons paaie verseker, wat onvermydelik beteken dat indien jy in ‘n botsing met jou geliefde Fortuner betrokke sou wees, die ander party heel moontlik nie verseker is nie, wat jou min of geen toevlug laat om jou skade te verhaal nie.
Vandaar versekering. Ons is almal goed vertroud met die konsep van versekering. Dit is so seker soos dood en belasting. Wel, amper. Hierdie artikel sal fokus op een spesifieke tipe versekering: korttermyn motorvoertuig- en derdeparty aanspreeklikheidsversekering.
Versekering word oor die algemeen gesien as ‘n wrokaankoop. Niemand wil geld uitgee (veral in die huidige finansiële klimaat) vir iets waarvoor hulle geen oënskynlike onmiddellike teenwaarde voor gaan kry nie. Versekering is egter nie verpligtend nie – behalwe as jou voertuig onder finansiering gekoop is. Versekering is inderdaad verpligtend ingevolge jou finansieringsooreenkoms met die doel om nie net jouself nie, maar ook die finansiële instelling te vrywaar vir enige verlies of skade aan die voertuig sou dit in ‘n botsing betrokke wees.
As jy een van die gelukkiges is wat nie ‘n bank gefinansierde voertuig bestuur nie, is die keuse joune of jy die voertuig wil verseker vir skade of verlies (en miskien nog belangriker, jouself as bestuurder, teen ‘n botsing en aanspreeklik vir ‘n ander bestuurder se Porsche!).
Alle paaie lei skynbaar terug na versekering. Dus, tensy jy ‘n trustfondsbegunstigde of selfversekerd is, het die normale man (of vrou) op straat geen ander keuse as om elke maand versekering uit te neem en ‘n premie te betaal om te verseker dat sy voertuig beveilig is teen skade of verlies en verder dat sy boedel beskerm word teen ‘n potensiële derdeparty-eis in die geval dat hy die oorsaak van ‘n botsing is.
Maar wat gebeur nou eintlik na ‘n botsing plaasgevind het en die versekering die skadevergoeding uitbetaal het (of nie)? ‘n Versekerde bestuurder geniet dekking vir sy of haar eie skade sou die voertuig óf herstelbaar óf (in uiterste omstandighede) afgeskryf wees. Vir die meeste versekerde individue is dit die einde van die pad en ‘n hoofstuk wat gesluit is in die afloop van ‘n nare gebeurtenis (of so dink hulle). Agter die skerms het die versekering se werk egter pas begin om die skade van die nalatige derde party te verhaal. Versekeringsmaatskappye het die reg ingevolge subrogasie om die uitgawe wat dit aan sy versekerde uitbetaal het, te verhaal. Hierdie geld wat van die nalatige derde party verhaal kan word, vind plaas sonder dat die versekerde dit weet tot ‘n stadium waar die versekerde sy bybetaling terugontvang óf deur ‘n prokureur gekontak word om te konsulteer óf te reël vir ‘n hofverskyning.
Gewoonlik word hierdie eerste kontak met ‘n mengsel van verbasing en soms selfs teenstand begroet. Nie een van die reaksies is ongegrond nie. Versekerdes word selde indien ooit deur hul makelaars of versekeringsmaatskappye ingelig dat indien daar ‘n eis is, die versekering die reg het om enige skade in die naam van die versekerde te verhaal, aangesien hulle ook enige aksie teen hul versekerde sal verdedig indien die versekerde vir skadevergoeding gedagvaar word.
Al die bogenoemde vereis die samewerking van die versekerde – versuim wat ‘n versekeringsmaatskappy die reg gee om die indemnifisering wat versekerde ingevolge die versekeringspolis geniet het, te verwerp. Dit is ‘n oënskynlik eenvoudige proses vir die versekerde – hulle moet net hof toe gaan en bewyse voorlê oor hoe die botsing plaasgevind het en ongeag die uitkoms, staan die vrywaring. Eers as die hof ten gunste van die versekerde bevind, kan hy of sy geregtig wees om hul bybetaling terug te ontvang, maar slegs in omstandighede waar die versekeringsmaatskappy die uitgawe van die derde party verhaal.
Dit kan ook gebeur dat daar ‘n bevinding van bydraende nalatigheid is wat beteken dat beide bestuurders tot ‘n mate skuld gehad het vir die veroorsaking van die botsing, wat lei tot ‘n berekening van wat sodanige bydrae tot die botsing was en gebaseer is op ‘n persentasie uit 100%, bv. bestuurder “A” was 70% bydraend nalatig en bestuurder “B” 30%, dus ‘n 70/30 verdeling.
Aan die einde van die dag kom alles terug na die aanvanklike vraag: Om te verseker of nie te verseker nie? Kan jy bekostig om nie versekering te hê nie?
Die eeue oue mantra klink waar – versuim om te verseker is om seker te wees om te misluk. Of ten minste so iets.
Artikel deur LOUIS KOTZé – Senior Assosiaat (LLB)
Vir meer inligting of enige navrae, kontak Louis gerus by louis@rgprok.com of 044 601 9900. www.rauchgertenbach.com