My familielid is gediagnoseer met Alzheimers/Demensie, wat nou? Administrateur aanstelling in terme van Artikel 60 van die Wet op Geestesgesondheidsorg

My familielid is gediagnoseer met Alzheimers/Demensie, wat nou?

Administrateur aanstelling in terme van Artikel 60 van die Wet op Geestesgesondheidsorg

Alzheimers en Demensie is van die mees gevreesde siektes wat wêreldwyd aan die toeneem is. Dit het menigte gevolge, veral as dit by die bates van die geaffekteerde persoon kom, aangesien die persoon, wanneer hy/sy gediagnoseer is met Alzheimers of Demensie, nie meer in staat gaan wees om na sy/haar eie sake om te sien nie. Om so ‘n persoon te help, word ‘n Administrateur aangestel om beheer te neem van die bates van daardie persoon.

Die aansoek vir die aanstelling van ‘n Administrateur word direk by die Meester van die Hooggeregshof gebring en word die Hof uitgeskakel in hierdie prosedure.  Hierdie het tot die gevolg dat dit ‘n goedkoper opsie is asook ‘n vinniger prosedure, as om te wag vir ‘n hofdatum, indien die Kurator Bonis roete gevolg word. ‘n Kurator Bonis mag aangestel word vir ‘n persoon wat òf geestesongesteld òf fisies onbekwaam is, terwyl ‘n Administrateur slegs aangestel word vir ‘n persoon wat geestesongesteld is.

Die aanstelling van die Administrateur word gedoen in terme van Artikel 60(1) van die Wet op Geestesgesondheidsorg en word dit verkies dat die Applikant ‘n naasbestaande van die persoon is.  Indien die applikant nie ‘n naasbestaande of gade van die persoon is nie, moet die stappe wat gevolg is om vas te stel waar die naasbestaandes hulle bevind, in die aansoek uiteengesit word.

Nadat die aansoek by die Meester ingedien is, moet die Meester binne 30 dae na ontvangs van die aansoek bevestig of ‘n ondersoek moet plaasvind om die meriete van die aansoek vas te stel.  Hierdie is slegs van toepassing in die volgende gevalle:

  1. Wanneer sekere bewerings in die aansoek bevestig moet word;
  2. Verdere inligting ter ondersteuning van die aansoek benodig word; of
  3. Die batewaarde van die persoon meer as R200 000 en die jaarlikse inkomste meer as R24 000 is.

Die ondersoek moet gedoen word deur ‘n gekwalifiseerde persoon soos byvoorbeeld ‘n maatskaplike werker.

Die ondersoeker het 60 dae om die ondersoek te voltooi en ‘n verslag by die Meester te liasseer waarna die Meester binne 14 dae moet toesien tot die volgende:

  1. Die aanstelling van die Administrateur;
  2. Weier om ‘n Administrateur aan te stel; of
  3. Die aangeleentheid na ‘n Regter in Kamers verwys om te oorweeg en ‘n beslissing te maak.

Nadat ‘n Administrateur aangestel is, neem die Administrateur beheer van die bates van die persoon.  Dit sluit in die invordering van alle inkomste wat aan die persoon betaalbaar is asook die betaling van alle maandelikse uitgawes van die persoon onder die toesig van en met die toestemming van die Meester.

Die Administrateur is verplig om op ‘n jaarlikse basis ‘n rekening by die Meester te liasseer waarin die Administrateur die inkomstes en uitgawes asook die bates en laste van die persoon uiteensit vir daardie periode.

Die Administrateur se fooi word in terme van Wetgewing voorgeskryf.

 

Artikel deur Anél Malherbe, BCom, LLB, Dip. Insolvensiereg (Assosiaat)

Vir meer inligting, kontak gerus vir Anél by acloete@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more