Plaas eiendom: Kom ons pak die bul by die horings
Dit is uiteraard belangrik om goeie regsadvies in te win voordat jy jou hard-verdiende geld in eiendom belê . Het jy al ooit daaraan gedink om jou werk te bedank en jou lessenaar en aktetas te verruil vir ’n lewe op die plaas? Dalk huur jy reeds plaaseiendom vir jou landbouonderneming en het jy uiteindelik die punt bereik waar jy gereed is om jou eie stukkie grond te koop. Hoewel niks vir jou meer romanties as die idee om op ‘n plaas te woon en werk, klink nie, is daar fundamentele verskille tussen die aankoop van landbougrond en die aankoop van ander onroerende eiendom. Twee van die faktore om in ag te neem word kortliks hieronder bespreek.
Beperkings wat deur die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond opgelê word
Die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond (Wet 70 van 1970) bepaal dat die Minister van Landbou (hierna die Minister genoem) se toestemming verkry moet word voordat landbougrond onderverdeel of in onverdeelde aandele aan meer as een persoon of entiteit oorgedra kan word. Die Wet verbied, in effek, die verkoop van ‘n gedeelte van plaaseiendom sonder vooraf skriftelike toestemming van die Minister. Dit gaan selfs so vêr as om die bemarking van ‘n gedeelte van plaaseiendom, of die verhuring van ‘n gedeelte van plaaseiendom vir ‘n tydperk wat 10 jaar oorskry, te verbied indien vooraf skriftelike toestemming van die Minister nie verkry is nie.
Alhoewel die Suid-Afrikaanse reg vir testasievryheid voorsiening maak, verbied hierdie Wet verder die oordrag van plaasgrond aan meer as een erfgenaam ingevolge ‘n testament, of ingevolge intestate erfopvolging, sonder vooraf skriftelike toestemming van die Minister. Die beperkings word ingestel in poging om te verhoed dat plaaseiendom onderverdeel word tot ‘n punt waar die oorblywende grond te klein is om ekonomies bewerk te word.
Alhoewel die verkryging van só toestemming na ‘n redelik eenvoudige struikelblok kan lyk, kan dit ‘n baie tydrowende en veeleisende proses wees sonder enige waarborg van sukses. Die Wet maak voorsiening vir ‘n aantal verdere beperkings sowel as uitsonderings op hierdie reëls, en daarom is dit van kardinale belang dat die gevolge hiervan vroegtydig met u regspraktisyn bespreek word.
Belastingimplikasies
Nog ‘n belangrike oorweging wanneer landbougrond as ‘n sakeonderneming aangekoop word, is die potensiële belastingimplikasies. Terwyl hereregte deur die koper aan die SAID (Suid Afrikaanse Inkomstediens) betaalbaar is by die aankoop van die meeste onroerende eiendom, kan ‘n boerderyonderneming, wat as ‘n lopende saak verkoop word, een van die uitsonderings op die reël wees. Waar die verkoper van onroerende eiendom ‘n geregistreerde BTW-ondernemer is vir doeleindes van die transaksie, maak die Hereregtewet voorsiening vir ‘n hereregtevrystelling aangesien belasting op toegevoegde waarde deur die verkoper betaalbaar sal wees. Waar ‘n plaas as ‘n besigheidsonderneming deur ‘n geregistreerde BTW-ondernemer aan ‘n ander geregistreerde BTW-ondernemer as ‘n lopende saak verkoop word, is BTW betaalbaar teen ‘n nulkoers in plaas van die standaard 15%, indien daar aan alle wetlike vereistes voldoen word. Vir ‘n plaaseiendomstransaksie om nulkoers te kry, moet partye ‘n skriftelike ooreenkoms aangegaan het dat die onderneming as ‘n lopende saak verkoop word en dat al die bates wat benodig word vir die bedryf van die onderneming aan die koper verkoop word, tesame met ander vereistes. Om die vereistes van ‘n nulkoerstransaksie met u prokureurs en ouditeure te bespreek, kan beide partye ‘n aansienlike bedrag belasting bespaar met die aankoop van ‘n eiendom. Advies van u aktebesorgingsprokureurs kan verder verseker dat die regte van beide partye beskerm word indien die SAID die nulkoerstransaksie verwerp en BTW teen die standaardkoers hef.
Waarskynlik die belangrikste verskil tussen plaaseiendom en ander vaste eiendom is dat die Wet op Onderverdeling van Landbougrond 70 van 1970 bepaal dat landbougrond nie onderverdeel mag word of in onverdeelde aandele aan meer as een persoon oorgedra mag word nie.
Daar is baie faktore wat met plaaseiendom in ag geneem moet word, onder andere die sonering van die eiendom, bestaande serwitute, arbeidsgeskille met bestaande werknemers, plaaswerkers en hul gesinne wat die eiendom okkupeer, waterregte en permitte en telke ander regsoorwegings.
Maak gerus ’n afspraak met ons kantoor of tree per e-pos met ons in verbinding om die regsaspekte van plaaseiendom te bespreek.
Kom ons pak die bul saam by die horings.
Artikel deur: Aleida Kraamwinkel (LLB) – Kandidaat Prokureur
Vir meer inligting, kontak gerus Aleida by aleida@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za
__
Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.




