ELEKTRONIESE ONDERTEKENING VAN ‘N KOOPOOREENKOMS VAN VASTE EIENDOM
Die groot “C-woord”, Covid-19, het die hele wêreld met ‘n knal getref. Die gevolg was beperkte inter-persoonlike aksie en mense regoor die hele wêreld moes noodgedwonge alternatiewe maniere vind om te kommunikeer – Suid-Afrika was geen uitsondering nie. Dit het ‘n massiewe impak op die eiendomsbedryf gehad, aangesien kontak tussen mense beperk was, alhoewel die koop en verkoop van vaste eiendom volstoom voortgegaan het. Eiendomsagente moes kreatiewe metodes ontwikkel om eiendomme te adverteer en te skou en tegelykertyd hulle kliënte se verwagtinge bestuur. Gelukkig het tegnologie virtuele besigtigings en vergaderings moontlik gemaak en saam met e-posse kommunikasie vergemaklik. Die wêreld het so “klein” geword dat jy ‘n eiendom kan besigtig en koop terwyl jy gerieflik op jou rusbank sit. Dit is nou die “nuwe normaal” aangesien hierdie tendens vandag steeds van toepassing is.
Nou kom die groot vraag – kan ‘n aanbod om onroerende (vaste) eiendom te koop elektronies onderteken word?
Om hierdie vraag te beantwoord, moet daar gekyk word na die Wet op Vervreemding van Grond van 1981 en die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies 25 van 2002. Ingevolge die Wet op Vervreemding van Grond is een van die vereistes van ‘n geldige koopooreenkoms dat alle partye (synde die verkoper en koper), of hul behoorlik gemagtigde agente/verteenwoordigers, die ooreenkoms moet teken. Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies bepaal verder uitdruklik dat elektroniese handtekeninge nie gebruik mag word vir ‘n koopooreenkoms van vaste eiendom, soos bepaal in die Wet op Vervreemding van Grond, nie. Dit is nou al jare lank die wet in Suid-Afrika dat die ondertekening van ‘n koopooreenkoms van vaste eiendom per hand geteken moet word deur ‘n persoon wat ‘n pen vashou (‘n “nat-ink”-handtekening). Maar is dit steeds van toepassing in ons nuwe en moderne, “normale”, tegnologie-gedrewe sakewêreld?
In die 2020-hofsaak Borcherds and Another v Duxbury and Others, wat in die hooggeregshof van Port Elizabeth aangehoor is, was die uitspraak teenstrydig met die wetgewende standpunt hierbo genoem. Een van die vrae voorgelê vir die hof se beslissing was of ‘n elektroniese handtekening ‘n wettige en bindende ooreenkoms vir die verkoop van vaste eiendom daarstel, of nie. Die kern van die hofsaak, vir die doeleindes van hierdie artikel, is dat die Hof aangedui het dat die hoof doel van ‘n persoon se handtekening is om die identiteit van die ondertekenaar te staaf/bevestig, en die elektroniese handtekening wat in hierdie geval gebruik is, het daardie doel bereik. Dit was die bedoeling van beide partye om die ooreenkoms van die verkoop van vaste eiendom aan te gaan en die ooreenkoms was dus regtens bindend en afdwingbaar.
In die lig van bogenoemde raai ons u steeds aan om egter baie versigtig te wees met die elektroniese ondertekening van ‘n koopooreenkoms van vaste eiendom. Die uitspraak hierin was ‘n enkele uitspraak gelewer deur ‘n Hof in die Oos-Kaap, welke uitspraak nie ‘n presedent vir alle soortgelyke aangeleenthede uitmaak nie. Totdat wetgewing voorsiening maak vir die elektroniese ondertekening van ‘n koopooreenkoms vir vaste eiendom, stel ons voor dat jy eerder die moeite doen om jou koopooreenkoms met die hand te teken (bekend as die “tradisionele nat-ink styl”).
Artikel deur Lorandi van der Merwe (LLB), Assosiaat
Vir verdere inligting, kontak gerus vir Lorandi by lorandi@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za
__
Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.





