DIE BEGIN VAN SAKEREDDING-VERRIGTINGE TERWYL ‘N MAATSKAPPY IN LIKWIDASIE IS

DIE BEGIN VAN SAKEREDDING-VERRIGTINGE TERWYL ‘N MAATSKAPPY IN LIKWIDASIE IS

Die blote feit dat ‘n maatskappy wat in likwidasie is in sakeredding geplaas kan word, klink onsinnig op die eerste oogopslag. In sekere gevalle mag dit dalk net die gepaste remedie wees.

Die vraag is egter of die Suid-Afrikaanse reg voorsiening maak vir ‘n maatskappy wat in likwidasie is om in sakeredding geplaas te kan word?

‘n Maatskappy wat alreeds in likwidasie is, of waar ‘n aansoek vir likwidasie hangende is, kan nie in sakeredding geplaas word by wyse van ‘n resolusie nie.  Artikel 131(1) van die Maatskappyewet, 2008 gelees saam met artikel 131(6) van die Wet maak egter voorsiening vir ‘n remedie in toepaslike omstandighede. Volgens hierdie artikel kan ‘n geaffekteerde party ‘n hofaansoek bring om sakeredding-verrigtinge te begin al het likwidasie-verrigtinge alreeds begin. ‘n Geaffekteerde persoon sluit in ‘n aandeelhouer, werknemer en ‘n krediteur. Artikel 131 (6) van die Wet bepaal dat wanneer ‘n geaffekteerde persoon ‘n aansoek bring om sakeredding-verrigtinge te begin terwyl likwidasie-verrigtinge alreeds begin het, word die likwidasie-verrigtinge opgeskort totdat die hof ‘n bevel maak. Wanneer die hof die bevel toestaan, neem sakeredding in aanvang. Indien die hof nie die bevel toestaan, word die likwidasie-verrigtinge nie meer opgeskort nie en gaan dit voort.

‘n Aansoek om sakeredding te begin mag “enige tyd” gebring word. Die omvang van die begrip “enige tyd” was oorweeg in Richter vs ABSA 2015 (5) SA 57 (SCA) waar die hof bevind het dat ‘n aansoek om sakeredding te begin ingedien kan word tot en met die maatskappy deregistreer en ontbind.

Dit beteken egter nie dat die likwidateur of ‘n ander geaffekteerde party nie die aansoek vir sakeredding kan teenstaan nie. In Van Staden NO vs Pro-Wiz Group (Edms) Bpk 2019 (4) SA 532 (SCA) het die hof bevind dat ‘n likwidateur beheer oor die maatskappy se bates behou en die aansoek kan teenstaan, al is die likwidasie-verrigtinge opgeskort.

Die howe het bevind dat die term “likwidasie-verrigtinge” nie die likwidasie bevel insluit nie, maar eerder die proses is waar ‘n maatskappy ontbind word. Vir dié rede, wanneer ‘n aansoek gebring word om ‘n maatskappy in sakeredding te plaas gedurende likwidasie, bly die likwidasiebevel staan, maar die likwidasie-verrigtinge word opgeskort.

In Jansen Van Rensburg NO vs Cardio Fitness Properties (Edms) Bpk en ander (46194/13) [2014] ZAGPJHC 40 (4 Maart 2014) het die hof bevind dat die likwidateurs in beheer bly van die maatskappy se bates tot ‘n bevel gemaak word op die aansoek en die aanstelling van ‘n sakereddingspraktisyn.

Ter opsomming maak Suid-Afrikaanse reg inderdaad voorsiening vir ‘n geaffekteerde party om ‘n aansoek te bring om ‘n maatskappy wat gelikwideur is in sakeredding te plaas. Die proses kan egter nie misbruik word nie en kan net oorweeg word in toepaslike omstandighede.

Artikel deur Enrico Acker (MCom, Dip. Insolvensiereg)

Vir meer inligting, kontak Enrico by enrico@rgprok.com of 044 601 9900.

www.rgprok.co.za

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more