WERKNEMERS: WAT GEBEUR WANNEER ‘N WERKGEWER IN SY/HAAR PERSOONLIKE HOEDANIGHEID GESEKWESTREER WORD OF ‘N MAATSKAPPY WORD GELIKWIDEER EN WAAR STAAN HULLE EISE?

WERKNEMERS: WAT GEBEUR WANNEER ‘N WERKGEWER IN SY/HAAR PERSOONLIKE HOEDANIGHEID GESEKWESTREER WORD OF ‘N MAATSKAPPY WORD GELIKWIDEER EN WAAR STAAN HULLE EISE?

Wanneer ‘n werkgewer in sy/haar persoonlike hoedanigheid gesekwestreer word of ‘n Maatskappy word gelikwideer, is die vraag gewoonlik wat van die werknemers gaan word en indien hulle eise teen die boedel van die werkgewer indien, waar staan hulle eise?  Preferent of konkurrent?

Artikel 38 van die Insolvensie Wet handel met die effek van sekwestrasie/likwidasie op ‘n dienskontrak van ‘n werknemer.  In terme van die voorgenoemde artikel, word die dienskontrak van die werknemer, in die geval waar ‘n werkgewer in sy/haar persoonlike hoedanigheid gesekwestreer word of ‘n Maatskappy gelikwideer word, opgeskort vanaf die datum van die sekwestrasie of likwidasie bevel, d.w.s die voorlopige sekwestrasie of likwidasie bevel.

Gedurende die opskorting van die dienskontrak, hoef die werknemer nie enige dienste te lewer aan die werkgewer nie en is ook nie geregtig op enige vergoeding behalwe vir werkloosheidsvoordele soos wat voorsien word in die Werkloosheidsversekeringswet soos vanaf die datum van opskorting, wat derhalwe die datum van die voorlopige sekwestrasie of likwidasie bevel is.

Die kurator of likwidateur is geregtig om korttermyn dienskontrakte met werknemers te sluit en voort te gaan om aan hulle salarisse of lone te betaal.  Hierdie is gewoonlik in die geval waar die kurator or likwidateur voortgaan om handel te dryf in die boedel.  Indien daar geen ooreenkoms tussen die kurator of likwidateur en werknemer(s) gesluit is ten opsigte van ‘n dienskontrak wat voortgaan nie, sal alle opgeskorte dienskontrakte 45 dae na die aanstelling van ‘n finale kurator of likwidateur beëindig.

Die Wet of Basiese Diensvoorwaardes maak voorsiening vir ‘n preferente eis vir skeidingsvoordele ten opsigte van ‘n werknemer wie se dienskontrak opgeskort of beëindig is terwyl die Insolvensie Wet in terme van Artikel 38 ook voorsiening maak vir ‘n ongelikwideerde konkurrente eis deur ‘n werknemer teen die boedel vir skade wat gely is as gevolg van die opskorting of beëindiging van die dienskontrak voor sy verstryking.

Werknemers het die volgende preferente eise teen ‘n boedel, wat beteken dit geniet voordeel onmiddellik na die sterfbed en begrafniskostes van ‘n insolvent, indien enige, en die administrasie kostes en eksekusie kostes:

  1. ‘n Maksimum van R12,000.00 vir salarisse of lone betaalbaar aan die werknemer, wat nie drie maande se salarise of lone voor die datum van sekwestrasie/likwidasie oorskry nie;
  2. ‘n Maksimum van R4,000.00 ten opsigte van verlof wat verskuldig is aan die werknemer en aan hom/haar opgeloop het gedurende die jaar van insolvensie of the vorige jaar;
  3. ‘n Maksimum van R4,000.00 ten opsigte van enige ander vorm van verlof, byvoorbeeld siekverlof, wat nie drie maande voor sekwestrasie/ likwidasie oorskry nie;
  4. ‘n Maksimum van R12,000.00 ten opsigte van skeidings- of afleggingsbetalings wat bereken word as een week se salaris/loon vir elke voltooide jaar van diens.

Enige bedrae wat geeïs word wat die bogenoemde limiete oorskry is konkurrente eise.  Dit beteken dat die werknemers dan ‘n konkurrente dividend vir die bedrag wat die bogenoemde limiete oorskry sal ontvang saam met die res van die onversekerede konkurrente krediteure vir die bedrag wat beskikbaar is vir verdeling, indien enige, na die toekennings aan al die preferente krediteure wat ‘n eis teen die boedel bewys het.

Artikel deur Anél Cloete (LLB) Assosiaat.

Anél kan vir meer inligting gekontak word by acloete@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more