‘N GROOT OORWINNING IN DIE OORLOG TEEN GESLAGSGEBASEERDE GEWELD
Dit is geen geheim dat die vrouens van Suid-Afrika geteister word deur geweld nie. Geslagsgebaseerde geweld (GGG) is ‘n diepgaande en wydverspreide probleem wat ‘n disproporsionele impak het op elke aspek van vrouens se lewens. GGG is sistemies en verskans in Suid-Afrikaanse instellings, kulture en tradisies.
Die SAPS se statistieke van geweld het getoon dat 902 vrouens vermoor was van Oktober tot Desember 2021. Gedurende hierdie drie maande het 11 315 vrouens verkragtings gerapporteer, wat beteken dat ongeveer 123 gevalle per dag aangemeld was.
Hierdie statistiek is vanselfsprekend dat die SAPS en Suid-Afrikaanse howe daarin misluk om ons vrouens te beskerm. Volgens ‘n 2021 verslag deur Statistics South Africa (kliek hier), het huishoudings se tevredenheid met die SAPS en howe se handelinge met misdadigers vanaf 2013 tot 2018 verswak vanaf 59.4% en 63.9% na 54.2% en 41.1% onderskeidelik.
Die wekroep van Suid-Afrikaanse vrouens het uiteindelik nie meer op dowe ore geval nie, toe President Ramaphosa op 28 Januarie 2022, drie GGG Wetsontwerpe goedgekeur het as deel van Suid-Afrika se wetgewing. Dit is belangrik dat vrouens weet hoe hierdie wette hulle kan beskerm en ‘n kort verduideliking daarvan volg:
- Criminal Law (Sexual Offences and Related Matters) Amendment Act Amendment Bill [B16-2020] (kliek hier)
-Herken seksuele intimidasie as ‘n kriminele misdryf;
-Verhoog ‘n persoon se plig om te raporteer wanneer daar vermoed word dat ‘n kind ‘n slagoffer is van seksuele misdrywe;
–BAIE BELANGRIK: Voorsien dat die besonderhede van persone wat skuldig bevind was van seksuele misdrywe aan die publiek beskikbaar gestel word.
- Criminal and Related Matters Amendment Bill [B17-2020] (kliek hier)
-Beskuldigdes van GGG sal slegs borgtog ontvang in uitsonderlike omstandighede en na noukeurige oorweging van die slagoffer se gevoel van veiligheid;
-Slagoffers en familielede van oorlede slagoffers sal die geleentheid hê om die paroolraad aan te spreek voordat daar oor parool besluit kan word.
- The Domestic Violence Amendment Bill [B20-2020] (kliek hier)
-Die definisie van huishoudelike geweld is uitgebrei om die volgende slagoffers van aanranding in te sluit: persone verloof om getroud te wees, persone wat met mekaar “uitgaan”, persone in gebruiklike verhoudings, en persone binne werklike of vermeende romantiese, intieme of seksuele verhoudings van enige duur;
-Persone sal binnekort aanlyn kan aansoek doen vir beskermingsbevele.
Die vooruitgang van die beskerming van vrouens het nie daar geëindig nie en het die uitspraak van die Konstitusionele Hof op 5 April 2022 in AK v Minister of Police (kliek hier) verdere verligting gebring. Die Hof moes eerstens bepaal asof die SAPS se mislukking om ‘n redelike effektiewe soektog uit te voer om die applikant te vind nadat sy ontvoer, aangerand en verkrag was, onregmatig was. Tweedens, moes die hof die onregmatigheid van die SAPS se ondersoek om die oortreders verantwoordelik te hou, assesseer.
Op 9 Desember 2010 teen 14:30 was die applikant in Gqeberha aangeval, beroof en gevange gehou tussen bosse en sandduine op King-strand. Sy was aanhoudend verkrag totdat sy die volgende oggend ontsnap het. Die SAPS het op die dag wat sy vermis geraak het, vier soektogte geloods om vir haar te soek. Eerstens, het ‘n SAPS beampte met ‘n 4×4 voertuig langs die kuslyn na haar gesoek. Tweedens, was ‘n soektog per voet op die strand uitgevoer. Derdens, was ‘n soektog met honde van die K9 Soek en Reddingseenheid uitgevoer. Vierdens, het ‘n helikopter vir 20 minute na die applikant gesoek. Die soektogte het die spesifieke area waar die applikant aangehou was uitgesluit en haar aanvallers is tot vandag op vrye voet.
Na ‘n stryd in die Hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appél, het die Konstitusionele Hof bevind dat die nalatige soektog en ondersoek deur die SAPS, wat die applikant skade aangedoen het, onregmatig was. Die SAPS het hul statutêre en wetlike verpligting om burgers veilig te hou oortree en daarom kon die Minister van Polisie deliktueel aanspreeklik gehou word vir die applikant se skade.
Die SAPS se vier soektogte was nalatig, omrede redelike polisiebeamptes in dieselfde posisie die area waar die applikant aangehou was sou insluit. Tydens die ondersoek het die SAPS twee nalatige weglatings gepleeg: die mislukking om haweloses in die area te ondervra en die mislukking om videokamera beeldmateriaal stiptelik te bestudeer.
Daar was ook gevind dat die SAPS se nalatige weglatings die feitlike en wettige oorsaak van die applikant se skade was. Indien sy vroeër gevind was, sou sy van ure se verkragting gespaar gewees het.
Hierdie uitspraak bewys dat Suid-Afrikaanse howe die erns van beskerming teen GGG verstaan. Dit bemoedig slagoffers van GGG om hul insidente aan te meld en die SAPS verantwoordelik te hou vir hul mislukkings. Die meerderheid van die Regters het gevind dat hierdie uitspraak nie die SAPS sal hinder in die uitvoer van hul pligte nie, maar dat slagoffers van GGG beskerm sal word as hul kies om te litigeer.
Dit is so belangrik vir vrouens om te weet dat daar werklike verandering in Suid-Afrikaanse howe is. Slagoffers het nou ‘n groter kans om die SAPS verantwoordelik te hou vir swak diens. Vrouens en enige ander slagoffers moet weet watter maatreëls tot hul beskikking is om hulself te beskerm en om teen die SAPS op te tree. Hierdie is die enigste manier hoe Suid-Afrika se skokkende GGG statistieke aangespreek kan word.
Vir die Konstitusionele Hof se opsomming van hul baanbrekende uitspraak, kliek hier.
Artikel deur Suegnet van Rensburg, LLB (Kandidaat Prokureur)
Vir meer inligting kontak gerus vir Suegnet by suegnet@rgprok.com. www.rgprok.co.za
__
Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.