Die implikasies van die nuwe Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns en die verpligte Getrouheidsfonds-sertifikaat

Die implikasies van die nuwe Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns en die verpligte Getrouheidsfonds-sertifikaat

Die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns 22 van 2019 (“Die Wet”) hou diepgaande gevolge in vir eiendomsagente wat sonder ‘n getrouheidsfonds-sertifikaat handel. Dié Wet het vanaf die 1ste Februarie 2022 in effek gekom en vervang die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede, 112 van 1976. Die nuwe Wet beoog om die ou Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede te verbreed en moderniseer en ‘n gesonde eiendomsmark in Suid Afrika te bewerkstellig. Die Wet dien as verwysingsraamwerk vir eiendomspraktisyns wat die manier waarin hulle vir- en namens potensiele verkopers en verhuurders optree, reguleer en die vereistes waaraan voldoen moet word voordat hul kommissie verdien, uiteen sit.

Die definisie van ‘n Eiendomspraktisyn word in Artikel 1 van die Wet uiteengesit as ‘n versamelnaam vir die verskillende rolspelers in die eiendomsmark uit verskillende sektore. Die term “eiendomsagent” word soortgelyk definieer in die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede. Vir die doeleindes van hierdie artikel word die fokus op eiendomsagente in die tradisionele sin van die woord as eiendomspraktisyns geplaas.

Die Wet het voor die afkondiging van die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns ook bepaal dat eiendomsagentskappe ‘n getrouheidsfonds-sertifikaat benodig om te mag handel. Artikel 47 van die Wet bepaal nou egter dat dit nie voldoende is vir die agentskap om bloot ‘n sertifikaat te hou nie, maar dat individue in hul amp as eiendomsagente, direkteure, trustees, vennote en ander materiele rolspelers in eiendomstransaksies, ook verplig is om ‘n getrouheidsfonds-sertifikaat te bekom en ten toon te stel. Die Wet bepaal verder dat kontrakte, ooreenkomste en mandate wat op die eiendomsmark betrekking het die voorgeskrewe bewoording, wat verseker dat die agent in die besit van ‘n getrouheidsfonds-sertifikaat is, bevat:

“[Naam van Eiendomspraktisyn] waarborg hiermee die geldigheid van sy/haar/die onderneming se getrouheidsfonds-sertifikaat soos op die datum van ondertekening van hierdie ooreenkoms.”

In terme van Artikel 48 van die Wet word eiendomspraktisyns verbied om sonder ‘n geldige getrouheidsfonds-sertifikaat te handel. Die Wet skryf verder voor dat eiendomspraktisyns in oortreding hiervan nie geregtig op enige vergoeding of kommissie vir hul diens in die eiendomsmark sal wees nie en dat die party waarvan kommissie verhaal is, dit sal kan terugeis. Die onus rus verder op aktevervaardigers om te verseker dat die betrokke agent ‘n geldige getrouheidsfonds-sertifikaat in plek het voordat kommissie deur die aktevervaardiger aan die agentskap uitbetaal word. Indien die aktevervaardiger kommissie uitbetaal sonder dat die getrouheidsfonds-sertifikaat in plek is, kan die aktevervaardiger strafregtelik vervolg word. Die doel van die getrouheidsfonds is om individue wat deur ‘n eiendomspraktisyn ingedoen is en/of geldelike verlies gely het as gevolg van bedrog of die wanbestuur van trustgeld deur eiendomspraktisyns, te vergoed. Die Wet voorsien dat ‘n klag teen ‘n eiendomspraktisyn by die Eiendomspraktisyns Regulerende Owerheid gelê kan word soos per die voorgeskrewe formaat.

Die verantwoordelikheid van beide eiendomspraktisyns en aktevervaardigers om te verseker dat die verpligte getrouheidsfonds-sertifikaat met elke eiendomstransaksie in plek is en die nagevolge van die oortreding hiervan, is slegs ‘n druppel in die emmer van die veranderinge wat deur die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns teweeg gebring word. Die Wet bied meer beskerming as die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede deurdat eiendomspraktisyns gedwing word om die nodige kwalifikasies te bekom en om hulself met die nodige kennis toe te rus om hul eie asook die belange van hul kliënte te beskerm. Dit is van kardinale belang dat eiendomspraktisyns die omvang van die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns verstaan en die gevolge van die oortreding daarvan verstaan.

 

Artikel deur Lorandi van der Merwe, Jnr Assosiaat, LLB

Vir verdere inligting, kontak gerus vir Lorandi by lorandi@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.com .

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more