Verkoop en koop van eiendom tydens INPERKING

Verkoop en koop van eiendom tydens INPERKING

 

Op 23 Maart 2020 het President Cyril Ramaphosa ‘n 21 dae landwye inperking (“lockdown”) afgekondig in ‘n poging om die verspreiding van die Corona COVID-19 virus te beperk en hopelik te stop.

Verkopers en kopers kan, met die nodige voorsorg maatreëls, nog steeds koopkontrakte beklink met die bystand van ‘n eiendomsagent en transport prokureur nieteenstaande die huidige inperking. Hiermee volg ‘n paar handige wenke wat voornemende verkopers en kopers kan volg alvorens hulle ‘n koopkontrak aangaan.

Siende dat alle inwoners van Suid Afrika tans beperk is tot hulle wonings tot en met die inperkings tydperk opgehef is, kan die ondertekening van koopkontrakte problematies wees. Die Wet op Vervreemding van Grond bepaal dat geen verkoop van grond geldig en afdwingbaar sal wees tensy dit nie in ‘n geskrewe akte van vervreemding vervat is en behoorlik deur al die partye (of hulle gemagtigde agent) geteken is nie. ‘n Koopkontrak moet dus fisies onderteken word deur die partye. Dit is belangrik om daarop te let dat alhoewel die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies (die Wet) die gebruik van elektroniese handtekeninge toelaat, die Wet uitdruklik die elektroniese ondertekening van ‘n akte van vervreemding van onroerende eiendom uitsluit. Die elektroniese ondertekening van watter aard ook al van ‘n koopkontrak sal dus nie ‘n geldige bindende ooreenkoms tot gevolg bring nie.

Partye kan egter afsonderlik ‘n koopkontrak onderteken welke dit ‘n geldige, bindende ooreenkoms sal wees. ‘n Koopkontrak kan ook voorsiening maak vir afsonderlike ondertekening en kan as volg lees:

ONDERTEKENING VAN DIE KOOPOOREENKOMS

Die partye stem hiermee toe dat hierdie koopooreenkoms onderteken kan word op verskillende plekke en op afsonderlike dokumente, waarvan dokumente saam, onderteken deur beide die VERKOPER en die KOPER, ‘n volledige en bindende ooreenkoms sal wees.

Dit is ook van belang om daarop te let dat dit nie ‘n wettige vereiste is vir getuies om die koopkontrak te teken nie. Dit is egter raadsaam sou daar ‘n dispuut ontstaan aangaande die egtheid van ‘n handtekening op ‘n koopkontrak.

Tydens die inperkings tydperk sal voornemende kopers uiteraard nie in staat wees om eiendom te besigtig alvorens hulle die koopkontrak onderteken nie. Die goeie nuus is dat kopers nog steeds ‘n aanbod kan maak deur die koopkontrak onderhewig te maak aan besigtiging van die eiendom. Sodoende hoef kopers nie te wag totdat die inperking opgehef word alvorens hulle ‘n aanbod maak nie. Die “onderhewig aan besigtiging” klousule in die koopkontrak is ‘n opskortende voorwaarde wat beteken dat die inwerkingtreding van die ooreenkoms opgeskort is hangende die voldoening aan die voorwaarde, al dan nie. Anders gestel, sou u as koper nadat u die eiendom besigtig het besluit om eerder nie voort te gaan met die koop daarvan nie, verval die koopkontrak sonder enige regsgevolge. Die bewoording van so ‘n opskortende voorwaarde kan as volg lees:

OPSKORTENDE VOORWAARDE

1.1 Hierdie ooreenkoms is onderhewig aan die opskortende voorwaarde dat die koper fisies die eiendom besigtig voor of op ……. (voltooi datum). Op datum van besigtiging moet die koper die verkoper of die eiendomsagent skriftelik in kennis stel dat hy/sy tevrede is met die toestand van die eiendom, in welke geval daar aan hierdie opskortende voorwaarde voldoen is.

1.2 Indien die koper na besigtiging van die eiendom nie van voorneme is om voort te gaan met die koop daarvan nie, sal hy/sy skriftelik kennis tot daardie effek gee aan die verkoper of die eiendomsagent, in welke geval hierdie ooreenkoms outomaties sal verval.

1.3 Indien die koper versuim om die eiendom te besigtig en sy/haar skriftelike kennisgewing aan die verkoper of eiendomsagent te voorsien op of voor die datum gestipuleer in paragraaf 1.1 sal die koper in kontrakbreuk wees.

Al ons Prokureurs is steeds beskikbaar vir navrae en konsultasies en kan per selfoon of e-pos gekontak word. Besoek gerus ons webtuiste https://www.rauchgertenbach.com/ vir kontakbesonderhede en ander COVID-19 verwante nuus.

 

Artikel geskryf deur – Paul Delport.

0

Related Posts

Hoe Artikel 2(3) van…

When it comes to wills, intent can sometimes matter more than strict compliance with form. There are many instances where a person drafts or signs a will, but when the…
Read more

Hoe Artikel 2(3) van…

Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van…
Read more

ONROERENDE EIENDOM KOOPKONTRAKTE –…

Opskortende voorwaardes in 'n koopkontrak vir onroerende eiendom is klousules wat die werking van die kontrak opskort totdat 'n bepaalde voorwaarde nagekom word. Algemene voorbeelde sluit in dat die koper…
Read more