KOOPKONTRAKTE: COVID-19 EN OPSKORTENDE VOORWAARDES
Partye tot ‘n koopkontrak moet ‘n waaksame oog hou oor die terme en voorwaardes van hulle kontrak en spesifiek opskortende voorwaardes gedurende die COVID-19 inperkings tydperk.
‘n Opskortende voorwaarde in effek skort die afdwingbaarheid van ‘n kontrak op hangende die voldoening aan die voorwaarde. Die koopkontrak is dus onderhewig aan die plaasvind, al dan nie, van ‘n onsekere toekomstige gebeurtenis. Tipiese voorbeelde van opskortende voorwaardes is klousules soos “onderhewig aan verkryging van verband finansiering” of “onderhewig aan die verkoop van die koper se eiendom”.
Meeste opskortende voorwaardes moet ten minste ‘n verstrykingstydperk vervat ten einde te verhoed dat die koopkontrak onbepaald hangend bly. Dit is belangrik om daarop te let dat as daar nie aan die opskortende voorwaarde voldoen is binne die gegewe tydperk nie, verval die koopkontrak en is dit ab initio (uit die staanspoor, as of dit nooit bestaan het nie) nietig. Meer belangrik, is dat die koopkontrak nie nadat dit verval het met ‘n addendum herleef kan word nie. ‘n Heeltemal nuwe koopkontrak sal aangegaan moet word. Ons howe het al menige male bevestig dat ‘n addendum nie ‘n koopkontrak wat verval het kan laat herleef nie en dat dit ook nie ‘n nuwe kontrak daarstel nie.
Dit het al algemene praktyk geword tussen partye tot ‘n koopooreenkoms wat verval het om ‘n addendum aan te gaan onder die indruk dat die koopkontrak herleef is. Dit kan uiteraard baie nadelige gevolge inhou vir alle partye betrokke.
Dit sal dus raadsaam wees vir partye tot ‘n koopkontrak om vroegtydig te reël vir ‘n uitstel van die tydperk waarbinne daar aan die opskortende voorwaardes voldoen moet word alvorens die koopkontrak verval. In lig van onlangse regspraak, kan wysigings tot koopkontrakte nou by wyse van elektroniese handtekeninge uitgevoer word, behalwe as die koopkontrak uitdruklik andersins bepaal.
In ons volgende uitgawe sal ons spesifieke opskortende voorwaardes asook die praktiese implikasies daarvan ondersoek.
Al ons Prokureurs is steeds beskikbaar vir navrae en konsultasies en kan per selfoon of e-pos gekontak word. Besoek gerus ons webtuiste https://www.rauchgertenbach.com/ vir kontakbesonderhede en ander COVID-19 verwante nuus.




